Nuus 18:00
BULLETIN 18 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe voortgesette pogings tot grondhervorming en maatskaplike geregtigheid
# Duduzile Zuma-Sambudla en Nhlamulo Ndhlela is onmiddellik geskors uit die MK-party
# En, Rugby: Ruan Nortjé hoop op die VRK-titel in laaste wedstryd vir Bulle
# President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis tot grondhervorming, werkskepping en verbeterde dienslewering herbevestig. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van die Mylpale van Vryheid-program by die Uniegebou in Tshwane gesê grondherstel, herverdeling en die beskerming van grondregte bly sentraal in die hantering van geskiedkundige ongeregtighede. Hy het bygevoeg grondhervorming is noodsaaklik vir die bou van ‘n meer gelyke samelewing en die ondersteuning van ekonomiese insluiting, veral vir voorheen benadeelde gemeenskappe:
# Die MK-party het aangekondig oudpresident Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, en die nasionale woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, is met onmiddellike ingang geskors. Die party sê die besluit volg na bevindings dat hul optrede die organisasie se eenheid, dissipline en grondwetlike prosesse ondermyn het, insluitend ongemagtigde openbare verklarings en optrede wat interne verdeeldheid veroorsaak het. Die party se sekretaris-generaal, Sibonelo Nomvalo, het op ‘n nuuskonferensie gesê die besluit het ten doel om orde en dissipline in die organisasie te herstel:
# Die Madlanga-kommissie het gelas Getuie J sal agter geslote deure getuig weens veiligheidsredes en voortgesette ondersoeke. Die kommissie ondersoek die omstandighede rondom die diefstal van ‘n besending dwelms van 541-kilogram uit die Valke se kantore in Port Shepstone, KwaZulu-Natal in 2021. Die kommissie se voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, sê die getuienis sal in camera aangehoor word, wat beteken die media en die publiek sal nie toegelaat word om die verrigtinge by te woon nie:
# Duisende suidelike olifantrobwelpies op afgeleë Antarktiese eilande wat aan Australië behoort, is as gevolg van voëlgriep dood. Die Heard- en McDonald-eilande, ongeveer vier-duisend-kilometer suidwes van Australië, is die tuiste van meer as een-miljoen seevoëls en robbe wat daar aanteel. Wetenskaplikes skat ongeveer 13-duisend babarobbe uit ‘n groep van 17-duisend op Heard-eiland is sedert verlede Augustus as gevolg van die H5N1-stam van voëlgriep dood. Wetenskaplikes glo die voëlgriep is waarskynlik deur migrerende voëls van die Franse Crozet-eilande, ongeveer een-duisend-800-kilometer verder, na die eilande gebring.
# Rugby: Die slot Ruan Nortjé se grootste wens vir môre se Verenigde Rugbykampioenskapseindstryd teen Leinster is dat die Bulle die trofee kan huis toe bring. Hy dra die blou trui vir die laaste keer na ‘n dekade by die span voor hy na Japan verhuis. Nortjé sê dit sal baie spesiaal vir die mense van Pretoria wees om die beker te wen. Hy sê hulle moet net glo en alles uithaal tot op die laaste oomblik. Die wedstryd begin half-agt môreaand op Croke-park in Dublin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-895-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-245-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 76-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….