Nuus 16:00
BULLETIN 18 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se ampsklagkomitee wil hê Ramaphosa se hofaansoek moet teengestaan word
# Cosatu gaan môre betoog oor die stygende lewenskoste
# En rugby: Die 37-jarige Slipper gaan na verwagting sy uittrede omkeer en weer vir die Wallabies speel
# Die voorsitter van die Parlement se ampsklagkomitee, Makashule Gana, sê hulle ondersteun die besluit om president Cyril Ramaphosa se hofaansoek teen hul ondersoek na die Phala Phala-saak te betwis. Die komitee glo daar is ‘n sterk regsbasis om voort te gaan. Gana verklaar hy tree namens die komitee as die tweede verweerder op en sal die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek om die aansoek teen te staan:
# Die vakverbond Cosatu betoog môre landwyd teen stygende lewenskoste. Hy sê werkers kan nie meer byhou nie en daar moet opgetree word voor dit te laat is. Woordvoerder Zanele Sabela sê die afgelope maande se verdubbeling van brandstofpryse en werkers wat meer as 40-persent van hul inkomste aan vervoer bestee, veroorsaak dat mense breekpunt bereik. Sy sê die privaat sektor moet sy kant bring en ‘n menswaardige loon betaal:
# Die Verkiesingskommissie het 48-duisend-212 personeellede aangestel en opgelei om die komende naweek se spesiale kieserregistrasieproses te ondersteun. Uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het bevestig ongeveer 34-duisend van hulle is werkloos, maar gekwalifiseerd. Hy beklemtoon die rol wat verkiesingsbedrywighede speel om tydelike werk en waardevolle vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede te skep. Mamabolo sê 37-duisend aangesteldes is vroue:
Verkiesingsnuus uit die buiteland:
# Kandidate het vir oulaas probeer steun werf voor die tussenverkiesing in Makerfield, Engeland, wat ook kan bepaal wie die volgende Britse eerste minister word. Die Arbeidersparty se kandidaat en burgemeester van Groter-Manchester, Andy Burnham, sal na verwagting eerste minister Keir Starmer uitdaag vir die party se leierskap as hy na vandag se verkiesing weer ‘n parlementslid word. Sy sterkste teenstander om die setel, die loodgieter en plaaslike raadslid Robert Kenyon van Reform UK, het tydens 2024 se algemene verkiesing tweede geëindig in die kiesafdeling.
# Rugby: Die veteraan Australiese stut James Slipper gaan na verwagting sy uittrede omkeer om die Wallabies in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in sy land te verteenwoordig. Die 37-jarige het in Oktober verlede jaar uitgetree na sy 151ste toets – die meeste ooit vir die land. Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het Slipper glo oortuig om terug te keer na ‘n briljante Superrugby-veldtog vir die Brumbies en terwyl die Wallabies ‘n voorry-beseringskrisis ondervind. Hy sal na verwagting ingesluit word in die groep vir die Nasieskampioenskapstoetse teen Ierland, Frankryk en Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-8-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-260-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….