Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die voormalige Springbok- en Bulle-slot, Victor Matfield glo die Pretoriase span kan Vrydagaand die Verenigde Rugbykampioenskap-titel inpalm as hulle die regte soort spel speel. Die Bulle pak Leinster in Dublin nadat hulle drie eindstryde verloor het wat hulle die afgelope vier jaar gehaal het. Die gashere sal staatmaak op tuisveldvoordeel en ‘n byna volsterkte Ierse toetsspan. Matfield wys egter op die besoekers se gehalte-aanvallers en sê hulle moet eerder konserwatief wees en hul oorheersing voorlangs en hul fisieke krag gebruik.
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan in Edgbaston, Engeland, met twee paaltjies verslaan om hul eerste oorwinning in die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue te behaal. Kaptein Fatima Sana het ‘n onoorwonne 55 bygedra tot Pakistan se 126 vir nege en Marizanne Kapp het drie paaltjies platgetrek. Daarna het die veelsydige Annerie Dercksen 52 van 35 balle gemoker terwyl Nadine de Klerk se 37 die Proteas tot ‘n oorwinning gelei het met drie boulbeurte oor. Suid-Afrika het daarmee herstel na hul nederlaag teen Australië in die openingswedstryd, en is nou derde in Groep A.
# Sokker: Vanaand se Groep A Wêreldbeker-wedstryd tussen Suid-Afrika en die Tsjeggiese Republiek is ‘n beslissende ontmoeting nadat albei spanne hul eerste wedstryde verloor het. Bafana Bafana het 2-0 teen Mexiko verloor in die openingswedstryd terwyl die Tsjegge 2-1 teen Suid-Korea verloor het. Suid-Afrika hoop om die eerste keer ooit verder as die groepfase te vorder, maar sal vanaand sonder Yaya Sithole en Themba Zwane wees nadat albei ‘n rooikaart gekry het teen Mexiko. Afskop is vanaand sesuur, Suid-Afrikaanse tyd.
Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê intussen hy sal dinge steeds op sy manier te doen en steur hom nie aan die onsin oor hom op sosiale media nie. Hy het onder hewige kritiek deurgeloop na die nederlaag teen Mexiko. Broos sê hulle enigste doelwit is om beter te speel:
# En gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, wat in die Amerikaanse Ope poog om die sewende man te word om ʼn loopbaan-Grand Slam voltooi, sê dit sal nie ʼn mislukking wees as hy nie wen nie. Die 29-jarige Amerikaner is reeds ʼn viermalige major-kampioen na verlede jaar se oorwinnings in die PGA-kampioenskap en die Britse Ope. Hy spog reeds met twee Meesters-titels en sê ‘n loopbaan-Grand Slam is nie motivering nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….