Nuus 11:00
BULLETIN 18 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan die Mylpale vir Vrede-veldtog bekendstel
# Oekraïne teiken ‘n Moskouse olieraffinadery die tweede keer hierdie week
# En sokker: Bafana Bafana se afrigter hou vol hy sal dinge op sy manier doen
# President Cyril Ramaphosa stel vandag die Mylpale vir Vrede-veldtog by die Uniegebou in Pretoria bekend om mylpale op die demokratiese reis te herdenk. Dit gaan oor die verering van die verlede om die toekoms te bemagtig. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Suid-Afrika vier vanjaar betekenisvolle mylpale soos die 30ste herdenking van die aanvaarding van die Grondwet, die 50ste herdenking van 1976 se jeugopstand en die 70ste herdenking van die veldtog teen pasboekies:
# Die regering sê hy maak bestendige vordering met die toepassing van leefstyloudits en sewe van die land se nege provinsies het vooruitgang gemaak. Nakoming van die leefstyloudit-program was 61-persent in 2023, maar staan tans op 93-persent, wat agt-duisend-982 senior amptenare dek. Die regering sê in Gauteng word 37-persent rekeningkundige beamptes wat geoudit is as hoë- of medium-risiko beskou. In die Wes-Kaap is premier Alan Winde en al elf LUR’e, insluitend hul lewensmaats, sedert 2020 aan vier rondes onafhanklike leefstyloudits onderwerp.
# Die Johannesburgse Metropolisie het tydens ‘n operasie ‘n onwettige onderneming in die middestad ontdek wat voedsel wat verval het, heretiketteer, en ook vermoedelik met gesteelde munisipale kabels handel dryf. Daar word beweer vervaldatums op voedselverpakking word met chemiese stowwe verwyder en met vervalste etikette vervang. Woordvoerder Xolani Fihla sê niemand is nog aangekeer nie, maar ondersoeke duur voort en die skuldiges sal voor die gereg gebring word:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne het die Moskouse olieraffinadery in die suidoostelike Kapotnya-distrik van Rusland vanoggend die tweede keer hierdie week aangeval. Kiëf het die aanleg Dinsdag met langafstand-hommeltuie getref in ‘n operasie wat president Volodimir Zelensky beskryf as ʼn reaksie op Russiese aanvalle. Die raffinadery is een van die grootste in die hoofstad en voorsien sowat 40-persent van die land se brandstofmark. Die aanval is gedoen terwyl wêreldleiers hulle op die G7-beraad in Frankryk daartoe verbind het om Oekraïne te help om sy lugafweer-vermoë te versterk.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy sal dinge steeds op sy manier te doen en steur hom nie aan die onsin oor hom op sosiale media nie. Suid-Afrika gaan vandag teen die Tsjeggiese Republiek probeer om sy Wêreldbeker-veldtog reg te ruk. Broos het onder hewige kritiek deurgeloop na die nederlaag teen die mede-gasheer, Mexiko, in die openingswedstryd. Hy sê hulle enigste doelwit is om beter te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-27-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-303-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….