Nuus 08:00
BULLETIN 18 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rwanda se minister van Buitelandse Sake sê Afrika as geheel moet migrasie aanpak
# Die Parlement se Handelskomitee verwelkom die besluit om Tongaat Hulett te red
# En die VSA en Iran onderteken ‘n 14-punt-ooreenkoms om die oorlog te beëindig
# Rwanda se minister van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking, Olivier Nduhungirehe, sê besprekings moet op die onderliggende oorsake van immigrasie fokus, eerder as om die skuld op een land te pak. Dit volg na onlangse betogings teen immigrasie in dele van Suid-Afrika waar spanning oor ongedokumenteerde migrante opgevlam het. Nduhungirehe, wat gister in Pretoria met die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, beraadslaag het, sê dis belangrik dat Afrika as geheel die migrasie-kwessie takel:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging verwelkom die ooreenkoms wat bereik is sodat Tongaat Hulett sakeredding kan verlaat en sy werksaamhede voortsit. Onder die voorwaardes van die ooreenkoms sal die Industriële Ontwikkelingskorporasie sy finansiële ondersteuning verleng sodat Tongaat Hulett kan voortgaan om handel te dryf terwyl die transaksie afgehandel word. Dit vorm ‘n basis om ‘n beraamde 250-duisend werksgeleenthede in die suikerindustrie te behou. Die komitee sê die redding van Tongaat Hulett moet gepaard gaan met aanspreeklikheid vir gebeure wat tot die maatskappy se val gelei het.
# Eskom het die openbare konsultasieproses oor die moontlike beperking van elektrisiteitsvoorsiening aan die Stad Johannesburg en City Power met nog 30 dae verleng. Teen die einde van Mei het die metro en City Power die kragverskaffer 5,26-miljard-rand geskuld. Dit sluit nie die lopende rekening van 1,58-miljard-rand in wat op 5 Junie verskuldig was nie. Eskom sê sedert die kennisgewing volgens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid uitgereik is, is 1,2-miljard-rand van die elektrisiteitsrekening betaal. Die publiek kan tot 17 Julie voorleggings indien.
# President Donald Trump van Amerika en president Masoud Pezeshkian van Iran het ‘n amptelike 14-punt-vredesooreenkoms onderteken wat bekendstaan as ʼn memorandum van verstandhouding. Die ooreenkoms sluit in dat gevegte aan albei kante, insluitend Libanon, onmiddellik gestaak word. Iran moet ook binne 30 dae die verkeer deur die Straat van Hormoes herstel en Teheran mag nie ʼn kernwapen bekom nie. Albei kante het 60 dae tyd om oor ʼn finale ooreenkoms te onderhandel. Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê skending van die memorandum sal ʼn hoër koste dra omdat albei presidente dit onderteken het.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, wat die sewende man sal word wat ʼn loopbaan-Grand Slam voltooi indien hy hierdie week die Amerikaanse Ope wen, sê hy sal dit nie as ʼn mislukking beskou as hy nie wen nie. Die 29-jarige Amerikaner is reeds ʼn viermalige major-kampioen nadat hy in die vorige seisoen die PGA-kampioenskap en Die Ope gewen het. Hy spog reeds met twee Meesters-oorwinnings. Scheffler hou vol die loopbaan-Grand Slam was nog nooit ʼn motiverende faktor nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-325-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-316-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….