Nuus 13:00
BULLETIN 17 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen is afgedank as minister van Landbou
# Malawi stuur ‘n veldtog van stapel om tien-duisend burgers uit Suid-Afrika te repatrieer
# En rugby: Erasmus verduidelik Quan Horn se verrassende insluiting as losskakel vir die kragmeting met die Barbarians
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het John Steenhuisen verwyder as minister van Landbou ná ‘n hersiening van die party se span in die regering van nasionale eenheid. Steenhuisen neem oor as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging in die plek van Alexandra Abrahams. Die huidige minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, volg Steenhuisen op en David Maynier sal vir Aucamp vervang. Yusuf Cassim is nou die adjunkminister van Hoër Onderwys, en Jack Bloom die adjunkminister van Water en Sanitasie. Hill-Lewis sê die veranderings was nodig:
# Die Malawiese regering vra finansiële skenkings en humanitêre hulp om sowat tien-duisend burgers uit Suid-Afrika te repatrieer. Malawiese burgers het by die Sherwood-saal in Durban bymekaargekom, desperaat om huis toe te keer na ‘n vlaag van teen-immigrante-betogings in die land. Die repatriasieprogram word gekoördineer deur Malawi se Departement van Rampbestuursake in samewerking met die Ministerie van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking, die Malawiese hoëkommissaris in Pretoria en humanitêre organisasies. Owerhede het die gebeure as ‘n nasionale humanitêre sending beskryf.
# ‘n Indonesiese bemanningslid sterk aan in ‘n Kaapstadse hospitaal nadat hy aan die Kaapse Suidkus vanaf ‘n houerskip gered is. Reddingspanne van die Nasionale Seereddingsinstituut in Hermanus en ER24-paramedici het gereageer op berigte van ‘n ernstige mediese noodgeval naby Walkerbaai. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê die pasiënt was in ‘n ernstige toestand, maar paramedici kon sy toestand bestendig voor hy oorgeplaas is:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n afsny-laedrukstelsel sal tot Saterdag winderige, koeler en onstuimige weerstoestande in dele van die land veroorsaak. Die stelsel sal na verwagting die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes en Gauteng raak. Die diens vra motoriste om versigtig te wees op paaie, weens moontlik gevaarlike rytoestande wat deur sterk wind veroorsaak word. Die diens waarsku ook matige tot sterk wind kan die gevaar van veldbrande verhoog.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die bestuur van spelers was ‘n belangrik faktor in sy besluit om die Leeus se heelagter, Quan Horn, op losskakel te kies vir Saterdag se wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha. Dis weens Manie Libbok se werkslading in Japan, Sacha Feinberg-Mngomezulu se besering en Handré Pollard se betrokkenheid in die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd. Erasmus sê Horn se veelsydigheid kan in die langtermyn waardevol wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-972-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-325-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….