Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 June 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het vyf nuwelinge ingesluit in die groep van 23 vir Saterdag se kragmeting met die Barbarians in Gqeberha. Die Junior Bok-kaptein, Riley Norton, en Carlu Sadie is in die beginspan. Die nuwelinge onder die plaasvervangers is JJ Kotzé, Paul de Villiers en Vusi Moyo. Faf de Klerk, wat sedert verlede jaar se sege oor Georgië nog nie weer vir die Bokke uitgedraf het nie, is op die bank. Ervare spelers soos kaptein Siya Kolisi, Cheslin Kolbe en Franco Mostert is ook in die groep.
Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê intussen die Barbarians se unieke identiteit en oorvloed van wêreldklas-talent maak van hulle ‘n bedreiging wat enige internasionale span kan laat struikel. Die Barbarians sluit die All Blacks-legende, TJ Perenara, en die Suid-Afrikaans gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, in. Davids sê hul hoofdoelwit is om hul eie vordering te evalueer ná ‘n lang tyd van voorbereiding:
# Nou sokkernuus: Lionel Messi het ‘n driekuns aangeteken in Argentinië se oorwinning van 3-0 oor Algerië in hul Wêreldbeker-openingswedstryd in Kansas City. Die 38-jarige ewenaar daarmee Miroslav Klose van Duitsland se rekord vir die meeste Wêreldbeker-doele. In New Jersey het die tweemalige kampioen, Frankryk, sy veldtog begin met ‘n oortuigende oorwinning van 3-1 oor Senegal. Kaptein Kylian Mbappé het twee doele aangeteken en Frankryk se voorste doelskieter van alle tye geword. In Boston het Noorweë Irak 4-1 verslaan toe Erling Haaland twee doele aangeteken het in sy Wêreldbeker-buiging.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, JJ Spaun, probeer om sy voorbereiding te herhaal wat hom verlede jaar die Amerikaanse Ope-titel op Oakmont besorg het. Die 35-jarige Amerikaner kan hierdie week die agtste speler word om agtereenvolgende titels te wen, ‘n groep wat Brooks Koepka, Ben Hogan, Curtis Strange en Willie Anderson insluit. Spaun, wat in April sy derde PGA-toertitel op die Texas Ope verower het, werk aan ‘n verskeidenheid houe:
# En laastens, tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka is ‘n promotorskeuse vir die Wimbledon-mansenkelspeltrekking. Die 41-jarige Switser tree die einde van die seisoen uit. Grigor Dimitrov van Bulgarye en die Britse spelers Jacob Fearnley, Arthur Fery, Jack Pinnington Jones en Toby Samuel is ook genooi. Intussen is die naaswenner van die Franse Ope, Maja Chwalinska van Pole, in die vroue-enkelspel beloon vir haar vertoning in Parys met ‘n promotorskeuse, saam met ses Britte, insluitend Harriet Dart. Wimbledon begin op 29 Junie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….