Nuus 11:00
BULLETIN 17 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moenie mislei word deur dié wat onbestendigheid wil veroorsaak nie
# Zuma sê dit sal onregverdig wees om 28,9-miljoen-rand aan die staat terug te betaal
# En rugby: Vyf Springbokke is ingesluit in die SA ‘A’-span teen Zimbabwe
# President Cyril Ramaphosa sê die sperdatum van 30 Junie waarop teenmigrantegroepe aandring onwettige immigrante moet Suid-Afrika verlaat, is onnodig. Hy sê die regering het reeds talle maatreëls ingestel om onwettige immigrasie te hanteer. Meer as 40-duisend buitelanders is sedert die begin van die jaar aangekeer, sewe-duisend-400 net die afgelope maand. Ramaphosa sê wetstoepassingsagentskappe is gereed vir 30 Junie:
# Oudpresident Jacob Zuma sê die staat kan slegs die terugbetaling van sy regskoste eis indien hy skuldig bevind en daar bewys word dat hy in eie belang opgetree het wat die korrupsiesaak teen hom betref. Die MK-party se leier het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen dat die Hooggeregshof in Pretoria se beslissing omgekeer word wat bepaal dat hy die 28,9-miljoen-rand se regskoste in verband met sy korrupsiesaak moet terugbetaal. Volgens News24 het Zuma in sy aansoek aangevoer dit sal ‘n ernstige onreg wees as die staat opdrag gee dat hy dit terugbetaal.
# Vervalste luukse goedere ter waarde van meer as 100-miljoen-rand is tydens ‘n groot operasie in Bellville, Kaapstad, in beslag geneem. Die polisie het op meer as 40 winkels in die Bellville-winkelsentrum toegeslaan. Dit volg na ‘n omvattende klopjag ‘n week gelede by dieselfde inkopiesentrum. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê nagemaakte handelsmerkklere, skoene, sakke, horlosies, sonbrille, pette en handelsmerkverpakking is afgeneem:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika het Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, gekritiseer en sê hy moet verantwoordeliker optree in Libanon. Sowat 27 mense is die afgelope 24 uur in Israelse lugaanvalle dood, wat die dodetal op drie-duisend-783 te staan bring. Amerika en Iran het ʼn ooreenkoms bereik waarvolgens die oorlog beëindig word op alle fronte, insluitend Libanon. Trump sê Israel veg reeds te lank teen Hisbolla en te veel mense sterf:
# Rugby: Die afrigter van Suid-Afrika-A, Mzwandile Stick, het ‘n gebalanseerde groep met ervaring en jeug aangewys vir Saterdag se kragmeting met Zimbabwe in Gqeberha. Dit sluit vyf Springbokke in. Die Haaie-voorspeler Vincent Tshituka sal die span aanvoer. Die ander toetsspelers in die opdrafspan is die dubbele Wêreldbeker-wenner, Lukhanyo Am, Phepsi Buthelezi, Neethling Fouché en Boan Venter. Stick het ook ‘n opwindende groep nuwelinge gekies, onder andere Luan Giliomee, Markus Muller, Jaco Williams en Zekhetelo Siyaya.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-524-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….