Nuus 08:00
BULLETIN 17 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verhoog Suid-Afrika se bydrae tot Ebola-reaksie
# Peet Viljoen word kort na sy aankoms by OR Tambo-lughawe in hegtenis geneem
# En Iran sê die oorlog is nie verby totdat Israel uit Libanon onttrek het nie
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika gaan sy finansiële hulp vir pogings om die Ebola-uitbreking te bekamp, van die huidige 81-miljoen-rand tot sowat 218,7-miljoen-rand verhoog. In die Demokratiese Republiek die Kongo is 837 bevestigde Ebola-gevalle aangemeld met 196 sterftes, en in Uganda 19 gevalle met twee sterftes. Ramaphosa, in sy hoedanigheid as die Afrika-unie se Hoof van Gereedheid, Voorkoming en Reaksie op Pandemies, het gister deelgeneem aan ‘n virtuele vergadering oor die uitbreking. Hy vra internasionale vennote om saam met Afrika te staan:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê hulle is oop vir die vorming van gesamentlike regering en koalisies op plaaslike regeringsvlak, maar hulle het drie ononderhandelbare voorwaardes. Met die oog op die plaaslikeregeringsverkiesings in November het die party met kleiner partye saamgesmelt, om sy swak vertoning in die 2024-verkiesing om te swaai, waar hy 1,2-persent van die stemme verwerf het. Mashaba het aan die SABC gesê hulle sal met enige party saamwerk wat Suid-Afrikaners eerste stel en verbind is tot bestendige, funksionele munisipaliteite wat dienste lewer:
# Die Suid-Afrikaanse realiteitstelevisiester Peet Viljoen is Dinsdagaand op die OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer nadat hy uit Newark, New Jersey, in die land aangekom het. Sy inhegtenisneming hou glo verband met bewerings van bedrog, diefstal en korrupsie so ver terug as 2010. Viljoen is uit die VSA gedeporteer na ongeveer 100 dae in aanhouding. Hy en sy vrou, Mel, ‘n voormalige Real Housewives of Pretoria-ster, is in Maart in Florida in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van kruideniersware uit ‘n supermark ter waarde van ongeveer 88-duisend-rand. Mel het in Mei na die land teruggekeer.
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, waarsku enige voortgesette teenwoordigheid van Israel in Libanon is ʼn skending van die memorandum van verstandhouding tussen Teheran en Amerika wat na verwagting Vrydag onderteken word. Libanon is vroeg in Maart by die konflik betrek toe die Iran-ondersteunde Hisbolla vuurpyle op Israel afgevuur het na die dood van Iran se opperleier. Israel het gereageer met aanvalle op Libanese grondgebied. Araghchi sê hulle het van die begin af gesê die einde van die oorlog in Libanon is ʼn voorvereiste vir ʼn einde aan die oorlog met Iran.
# Tennis: Die sesmalige Wimbledon-dubbelspelkampioene, Serena en Venus Williams, is promotorskeuses vir die vroue se dubbel-afdeling vir vanjaar se derde Grand Slam. Die 23-malige kampioen, Serena, het verlede week by Queen’s na vier jaar tot die toer teruggekeer terwyl Venus verlede Julie na 16 maande teruggekeer het. Die Williams-susters het saam 14 Grand Slam-dubbelstitels gewen, wat die tweede meeste is van enige vrouespan in die Ope Era. Wimbledon begin die 29ste van die maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-783-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-332-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….