Nuus 06:00
BULLETIN 17 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê jongmense se uitdagings is ernstig en hul bekommernisse werklik
# Minister Lamola sal vandag sy Rwandese eweknie ontvang
# En rugby: Die Springbok-hulpafrigter sê die Barbarians moet nie onderskat word nie
# President Cyril Ramaphosa sê die uitdagings waarmee jongmense te kampe het, vereis praktiese oplossings, nie die plasing van blaam op kwesbare mense nie. Hy het gister die hooftoespraak gelewer tydens die Nasionale Jeugdag-herdenking in Johannesburg. Die jeugwerkloosheidsyfer staan op 46-persent. Ramaphosa sê die uitdagings waarmee jongmense te kampe het, is ernstig en hul kommer is werklik, en daarom moet die regering se reaksie omvattend en dringend wees. Hy sê die regering tree op drie fronte op:
Ramaphosa sê ook alle belanghebbendes in die land moet saamwerk om volhoubare oplossings te bied om werkloosheid onder jongmense te verminder. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer staan nou op 32,7-persent, terwyl 4,7-miljoen jongmense wat kan werk, werkloos bly. Ramaphosa beklemtoon dat die privaatsektor ook ‘n verantwoordelikheid het om die uitdaging van werkloosheid aan te spreek:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sal vandag sy eweknie van Rwanda, Olivier JP Nduhungirehe, in Pretoria ontvang. Dit vorm deel van pogings om bilaterale betrekkinge tussen die twee lande te versterk. Volgens die Verenigde Nasies se COMTRADE-databasis oor internasionale handel handhaaf Suid-Afrika ‘n beduidende handelsoorskot met Rwanda, wat jaarliks sowat 648-miljoen-rand uitvoer. Die departement sê besprekings sal fokus op die verbetering van diplomatieke betrokkenheid en die bevordering van samewerking op prioriteitsgebiede, insluitend handel, toerisme, gesondheid, onderwys en sekuriteit.
# Die Johannesburg Krisisalliansie sê die Stad Johannesburg het steeds geen inligting verskaf oor Eskom se dreigende onderbreking van elektrisiteitstoevoer na die metro nie. Die metro en City Power skuld Eskom tans ‘n agterstallige skuld van 5,25-miljard-rand. Na onderhandelinge tussen die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, Eskom en City Power, is geen ooreenkoms bereik nie. Die Krisisalliansie sê die krisis word verder vererger deur die uiters beperkte tyd wat aan die publiek gegee word om te reageer op Eskom se kennisgewing oor die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê die Barbarians se unieke identiteit en oorvloed van wêreldklas-talent maak van hulle ‘n bedreiging wat enige internasionale span kan laat struikel. Die Bokke sal Saterdag in Gqeberha teen die Barbarians uitdraf, wat die All Blacks-legende, TJ Perenara, en die Suid-Afrikaans gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, insluit. Davids sê hul hoofdoelwit is om hul eie vordering te evalueer na ‘n lang tyd van voorbereiding:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-665-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Terwyl Volodymyr Zelensky met leiers by die G7-beraad in Frankryk praat oor steun vir Oekraïne, toon ander nuus uit die land duidelik dat geen lewende wese veilig is teen die trauma van oorlog nie. ‘n Russiese hommeltuigaanval het dierekampe by die dieretuin in Oekraïne se tweede grootste stad Kharkiv getref. Ten minste 10 konyne is dood in die kamp waar honderde konyne, proefkonyne, rotte en muise gehuisves word. Nog 15 konyne is beseer, terwyl ‘n olifant in ‘n aangrensende kamp tekens van stres getoon het nadat sy omheining deur die aanval beskadig is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….