Nuus 13:00
BULLETIN 16 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa vra vir ‘n nuwe ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie
# Die oorskot van ‘n KwaZulu-Natalse man wat in Rusland dood is, is uiteindelik gerepatrieer
# En ‘n ongeluk tussen ‘n minibustaxi en bakkie eis die lewens van agt mense
# Die UDM-leier Bantu Holomisa het aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, geskryf en versoek dat ‘n parlementêre ondersoek na die bestuur van die Openbare Beleggingskorporasie ingestel word. Dit volg terwyl die OBK-raad kyk na bewerings oor belangebotsings en die gesag waaronder ‘n forensiese ondersoek na die Lanseria-lughawe-geskil gelas is teen sy uitvoerende hoof Patrick Dlamini. Holomisa sê die jongste bewerings lei tot ernstige vrae oor bestuur, aanspreeklikheid, toesig, belangebotsings en die beskerming van 3,6-duisend-miljard-rand in staatspensioengeld en maatskaplike fondse.
# Die oorskot van ‘n man van KwaZulu-Natal, wat na bewering met werksbeloftes na Rusland gelok is, is na Suid-Afrika teruggebring. Sihle Makhaye was onder ‘n groep Suid-Afrikaners wat in Julie verlede jaar vir sekuriteitswerk gewerf is, maar in plaas daarvan gevra is om ‘n jaarkontrak te teken om aan die frontlinie van die Russies/Oekraïnse oorlog te veg. Die LUR vir die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê die nasionale regering het gehelp om Makhaye se oorskot te repatrieer:
# Ten minste agt mense is in die vroeë oggendure dood in ‘n ongeluk tussen ‘n minibustaxi en ‘n bakkie in Mpumalanga. Volgens amptenare het ‘n minibustaxi en ‘n vragmotor op die N4-tolpad tussen Ngodwana en Waterval Onder, in die rigting van Waterval Boven, gebots. Die woordvoerder van die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling, Moeti Mmusi, sê ondersoek word ingestel:
# Die Franse president Emmanuel Macron sê die VSA-Iran-ooreenkoms is ‘n baie belangrike stap in die rigting van vrede; ook vir die wêreldekonomie. Die ooreenkoms is bereik na intensiewe onderhandelinge, met beide kante wat ‘n onmiddellike en permanente einde aan militêre optrede op alle fronte, insluitend in Libanon, verklaar het. Macron sê die ooreenkoms skep ook ‘n geleentheid vir breër onderhandelinge wat daarop gemik is om vrede en veiligheid regoor die Midde-Ooste te bevorder:
# Krieket: Engeland se hoofafrigter, Brendon McCullum, sê hy is bekommerd oor Ben Stokes na ‘n voorval by ‘n Chelsea-nagklub waarin die kaptein ‘n middernagtelike aandklokreël saam met snelbouler Gus Atkinson verbreek het. Die twee is uit die groep gelaat vir die tweede toets teen Nieu-Seeland, wat môre by The Oval begin. McCullum sê sy plig om na die spelers om te sien kom voor tugsake of die lewensvatbaarheid om Stokes as kaptein te behou:
# En ten slotte: Die EFF sê Suid-Afrika het een van sy grootste musikale seuns in die legendariese pianis, komponis en kulturele ambassadeur, Abdullah Ibrahim, verloor. Die 91-jarige is in Duitsland oorlede na ‘n kort siekbed. Die EFF sê hy is dankbaar dat mense vroeër vanjaar ‘n laaste geskiedkunige optrede deur hierdie musiekreus by die Kaapstad Internasionale Jazzfees kon aanskou. Hy sê Ibrahim het deur sy musiek ‘n stem gegee aan die stryd, veerkragtigheid en aspirasies van Suid-Afrikaners, en bewys dat kuns ‘n kragtige instrument van weerstand kan wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….