Nuus 18:00
BULLETIN 15 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa verwelkom die vordering met hervormings, maar waarsku die beleggingskrisis duur voort
# Die Gauteng Wetgewer verwelkom die skorsing van die hoof van die Verkeerspolisie
# En sokker, die doelwagter Ricardo Goss steun Hugo Broos voor Bafana se wedstryd teen Tsjeggië
# Business Leadership South Africa sê onlangse ontwikkelings, insluitend ‘n kredietopgradering, verbeterde haweprestasie in Durban, KwaZulu-Natal, en sterker as verwagte bruto binnelandse produkgroei, toon hervormings begin werk. Die organisasie waarsku egter belegging bly te laag teen slegs 13,5-persent van die bruto binnelandse produk, ver onder die 30-persent-teiken wat nodig is om sterker groei te dryf. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof van BLSA, Busisiwe Mavuso, gesê volgehoue beleidsonsekerheid, swak beleggersvertroue en wêreldwye ekonomiese druk, hou vordering terug.
# Die Portefeuljekomitee van die Gauteng Provinsiale Wetgewer oor Gemeenskapsveiligheid het die skorsing van die hoof van die Gautengse Verkeerspolisie, Samuel Mashaba verwelkom hangende ‘n dissiplinêre proses. Die besluit volg na getuienis voor die Madlanga-kommissie, waar Mashaba erkennings gemaak het wat tot ernstige wangedrag kan lei. Die komiteevoorsitter, Bandile Masuku, sê die stap weerspieël die regering se verbintenis tot aanspreeklikheid en etiese leierskap. Hy doen ‘n beroep op ‘n regverdige, deursigtige en spoedige dissiplinêre proses:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, veroordeel die naweek se dodelike skietvoorval in ‘n apteek in die Sejoseng-sakesentrum in Qumbu. Gewapende mans het op drie klante losgebrand en die ANC-aktivis Wonele Gontshi doodgeskiet. Een persoon is beseer en ‘n derde kon wegkom. Woordvoerder Makhaya Komisa sê Nqatha is vol vertroue die polisie sal die moordenaars in hegtenis neem:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het sy 80ste en Amerika se 250ste verjaardag gevier met ‘n Ultimate Fighting Championship-geleentheid op die Withuis-grasperk. Trump en duisende ander gemengde gevegskuns-aanhangers het gekyk hoe die Amerikaanse vegter Justin Gaethje sy Spaans-Georgiese teenstander Ilia Topuria klop om die liggewigkampioenskap in die hoofgeveg te wen. Die gevegsaand was die eerste professionele sportbyeenkoms wat ooit by die presidensiële woning aangebied is. Na raming was daatvier-duisend-300 genooide gaste by die geleentheid en nog ‘n verdere 85-duisend sou na verwagting by ‘n nabygeleë aanhangersone kyk.
# Sokker: Die Bafana Bafana doelwagter, Ricardo Goss, het die hoofafrigter Hugo Broos verdedig te midde van kritiek na ‘n 2-0 nederlaag teen Mexiko. Goss sê dit is onregverdig om Broos so streng te oordeel en wys na die span se vordering onder sy leierskap, insluitend kwalifisering vir die Wêreldbeker en ‘n derde plek by die Afrikabeker. Hy het Broos ondersteun om die span te verder te lei wanneer hulle Donderdag in ‘n Groep A-wedstryd teen Tsjeggië te staan kom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-617-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….