Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Stormers-slot Adré Smith is opgeroep vir die Springbok-oefengroep in Johannesburg. Die speler met meer as 50 wedstryde vir die Kaapstadse span is die jongste wat by die uitgebreide groep aansluit nadat sy spanmaat, Ruben van Heerden, verlede week opgeroep is. Hulle berei voor vir Saterdag se wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha, terwyl die Suid-Afrika A-span in die voorwedstryd kragte meet met Zimbabwe. Bok-afrigter Rassie Erasmus en die SA A-span se breier, afrigter Mzwandile Stick, sal môre hul spanne aankondig.
# Sokker: Die viermalige kampioen, Duitsland, het sy Wêreldbekerveldtog afgeskop deur die nuweling Curacao in Houston 7-1 af te ransel. Ses spelers het doele aangeteken, met Kai Havertz wat twee ingeskop het. Manchester United se vleuel, Adad Diallo, het Ivoorkus in beseringstyd gehelp om Ecuador in Philadelphia 1-0 te klop. Liverpool se voorspeler, Alexander Isak, het in sy eerste toernooi geskitter en Swede gelei tot ‘n oorwinning van 5-1 oor Tunisië in Monterrey met ‘n doel en twee bydraes. Nederland en Japan het met 2-elk gelykop gespeel in Dallas.
# Gholf: Die Zimbabwiër Stuart Krog het die Zambiese Ope op die Nkana-klub met ‘n enkele hou gewen vir sy eerste Sonskyntoer-titel. Sy laaste ronde van 66 het hom laat eindig op vyf onder syfer, gevolg deur die Suid-Afrikaner Jason Roets, met ‘n laaste ronde van 75. Die Suid-Afrikaners Hayden Porteus en Keagan Thomas was saam derde op drie onder. Krog beskryf die oorwinning as ‘n spesiale oomblik in sy loopbaan:
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het sy eerste oorwinning vir Ferrari beklink toe hy die Barcelona-Kataloniese Grand Prix gewen het. Dit was sy eerste oorwinning sedert die Belgiese Grand Prix in Julie 2024, en 106de van sy loopbaan. George Russel van Mercedes was tweede en Lando Norris van McLaren derde – die eerste keer sedert 1968 dat Brittanje al drie podium-posisies inpalm. Die voorloper op die bestuurders-punteleer, Kimi Antonelli, moes laat in die wedren onttrek, maar is steeds 41-punte voor Hamilton na sewe wedrenne.
# En laastens, tennis: Donna Vekic van Kroasië het ‘n titeldroogte van twee jaar verbreek deur die Queens-toernooi in Londen te wen. Die 29-jarige het die tuisgunsteling Emma Raducanu in skoon stelle verslaan. Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen het probeer om die eerste Britse vrou te word om te wen sedert Ann Jones in 1969. Vekic is die sesde gelukkige verloorder en eerste sedert 2023 om ‘n WTA-titel te beklink. In Duitsland het die Amerikaner Ben Shelton die Stuttgart-ope gewen toe hy sy landgenoot en verdedigende kampioen, Taylor Fritz, verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….