Nuus 08:00
BULLETIN 15 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber sê sy departement is onder druk
# Jub Jub is aangekeer in verband met ‘n beweerde ontvoering en skietery
# En Iran sê onderhandelinge vir ‘n meer uitgebreide ooreenkoms sal oor 60 dae plaasvind
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê sy departement verkeer onder erge druk, met net 832 immigrasie-inspekteurs wat sedert Januarie meer as 40-duisend gevalle hanteer het. Hy het met die media gepraat tydens die vergadering van die tussen-ministeriële komitee op Migrasie. Schreiber sê die departement beweeg na tegnologie-gedrewe hervorming. Hy sê hulle het begin om biometriese opnames deur die elektroniese reismagtiging-stelsel te gebruik vir diegene wat Suid-Afrika wil binnekom:
# Die Gautengse polisie het die televisie-persoonlikheid en kletsrymer Molemo ‘Jub Jub” Maarohanye in Edenvale aangekeer in verband met ‘n beweerde ontvoerings- en skietvoorval waarby ‘n e-taxibestuurder betrokke was. Hy het die bestuurder na bewering beskuldig dat hy ‘n verhouding het met sy meisie. Die bestuurder is in ‘n voertuig ingedwing en ‘n skoot is na bewering in sy rigting afgevuur. Maarohanye verskyn vandag in die Germistonse Landdroshof op aanklag van ontvoering, regsverydeling en afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê geweldpleging, opsetlike beskadiging, voorvalle van middel-misbruik en leerder-wangedrag bly beduidende uitdagings wat voortgesette samewerking tussen skole, ouers, gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe vereis. Die departement het ‘n omvattende omgewingsontleding gelas van misdaad en geweld in skole, wat 245 hoërisiko-skole geïdentifiseer het wat geteikende ingryping en steun benodig. Maile sê daar is bevind skoolveiligheid hou dikwels verband met breër gemeenskaps-toestande:
# Iran se adjunkminister van Buitelandse Sake, Kazem Gharibabadi, sê ‘n omvattender ooreenkoms met Amerika sal binne ‘n skietstakings-tydperk van 60-dae onderhandel word, wat die verligting van sanksies insluit. Amerika en Teheran het ooreengekom oor ‘n vredesraamwerk vir ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig, die Amerikaanse versperring van Iranse hawens op te hef en die Seestraat van Hormoes te heropen. Gharibabadi sê toetrede tot die onderhandelings hang af van Amerikaanse instelling van sy beloftes, veral die vrystelling van miljarde-dollar se bevriesde Iranse fondse.
# Gholf: Die Zimbabwiër Stuart Krog het die Zambiese Ope op die Nkana-klub met ‘n enkele hou gewen vir sy eerste Sonskyntoer-titel. Sy laaste ronde van 66 het hom laat eindig op vyf onder syfer, gevolg deur die Suid-Afrikaner Jason Roets, met ‘n laaste ronde van 75. Die Suid-Afrikaners Hayden Porteus en Keagan Thomas was saam derde op drie onder. Krog beskryf die oorwinning as ‘n spesiale oomblik in sy loopbaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-559-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-323-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….