Nuus 16:00
BULLETIN 12 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbuyiseli Madlanga vra Mashaba uit oor sy kennis van die dwelm-aankoms in Aeroton
# Die Nkabinde-ondersoek verwerp Shamila Batohi se versoek vir die opname van haar voorleggings
# En: ‘n Nuwe peiling wys evangeliste is verdeeld oor Trump se oorlogbeleid in Iran en sy immigrasie-optrede
# Die Madlanga-kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het die hoofinspekteur van Gautengse Verkeer, Samuel Mashaba, ondervra oor sy interaksie met die vermeende informant Tumelo Nku voor die beslaglegging in 2021 op 700-kilogram kokaïen ter waarde van 300-miljoen-rand. Die kommissie ondersoek die omstandighede rondom die Aeroton-dwelklopjag. Madlanga betwis Mashaba se getuienis oor die aankoms van die vragmotor en voer aan Nku sou hom ingelig het voor hy kon optree:
# Die Nkabinde-ondersoek na die geskiktheid van die geskorste Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, om sy amp te beklee, het ‘n aansoek van die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verwerp om skriftelike voorleggings vir opname in die ondersoekrekord in te dien. Batohi wou bykomende voorleggings indien ná haar onvoltooide kruisondervraging en ‘n besluit om haar mondelinge getuienis te staak. ‘n Woordvoerder, Tiyisela Max Mpuzana, sê hulle het, nadat die aansoek en regsraamwerk oorweeg is, die versoek van die hand gewys en die ondersoek voltooi nou sy verslag aan president Cyril Ramaphosa.
# Die GOOD-party sê die Ouditeur-generaal se bevindings oor verkrygingsprosesse in die Stad Kaapstad bevestig die bekommernisse wat inwoners, gemeenskapsaktiviste en opposisiepartye al jare lank opper. ‘n Partywoordvoerder, Suzette Little, sê die metro se terugsak van ʼn skoon oudit-uitslag na ʼn ongekwalifiseerde oudit met bevindings is nie ʼn geringe administratiewe kwessie nie. Sy sê die OG se bevinding dat swak plekke bestaan in die evaluering van bod-aanbiedings en die nakoming van verkrygingsvereistes, wek ernstige kommer:
# Ongeveer die helfte van Evangeliese Christene meen die Amerikaanse president Donald Trump se hantering van belangrike kwessies strook nie met hul Christelike waardes nie. ‘n Ipsos-peiling toon 54-persent van Trump se belangrike ondersteuningsbasis stem nie saam met sy gebruik van militêre magte in Iran nie, terwyl 51-persent nie hou van sy benadering tot immigrasie nie. Evangeliste het n sleutelrol in Trump se 2024-verkiesingsoorwinning gespeel, en hy gebruik gereeld geloofstaal om sy beleide en doelwitte te beskryf. Sy goedkeuringsyfer het egter onlangs gedaal, met die oorlog in Iran wat brandstofpryse laat styg het.
# Sokker: Suid-Korea se kans om tot die Ronde van 32 deur te dring, het tot 93-present gestyg ná hul 2-1 oorwinning oor die Tsjeggiese Republiek in die Wêreldbeker vroeër vandag. Mexiko se kwalifiseringskans staan op 98-persent. Volgens die media-agentskap, The Athletic, sal Suid-Korea se plek feitlik verseker wees met ‘n oorwinning oor Mexiko en selfs al verloor hulle die wedstryd, bly hul kanse sterk op 86-persent. Die Tsjeggiese Republiek het ‘n 56-persent kans om deur te dring, terwyl Suid-Afrika die laagste kans het met 27-persent. Suid-Afrika en Suid-Korea ontmoet mekaar op 25 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-408-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-200-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….