Nuus 15:00
BULLETIN 12 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile vra vir ‘n sterker vennootskap met tradisionele leiers
# Tshwane se distrikskommissaris sê volgehoue samewerking is noodsaaklik in die voortgesette stryd teen misdaad
# En rugby: Handré Pollard glo die Bulle se karakter is hul grootste bate in die VRK eindstryd
# Adjunkpresident Paul Mashatile versoek ‘n sterker vennootskap tussen die regering en tradisionele leiers om uitdagings in landelike gemeenskappe aan te pak en ontwikkelingspogings te versterk. Mashatile het tydens ‘n gesprek met tradisionele en Khoi-San-leiers in Limpopo die regering se verbintenis tot die verbetering van ondersteuning vir tradisionele leierskapsinstellings bevestig, sowel as die oplossing van leierskapsgeskille en die bevordering van wetgewende hervormings. Hy sê samewerking tussen die regering en tradisionele leiers is noodsaaklik om dienslewering te verbeter en veerkragtige gemeenskappe te bou:
# Tshwane se distrikskommissaris, Samuel Thine, sê volgehoue samewerking tussen wetstoepassingagentskappe en gemeenskapstrukture is noodsaaklik in die voortgesette stryd teen misdaad en om veiliger gemeenskappe te verseker. ‘n Multi-dissiplinêre operasie om misdaad te voorkom wat in Ga-Rankuwa en Mabopane gehou is, het tot die inhegtenisneming van 345 verdagtes vir onder meer moord en gewapende roof, gelei. Die polisiewoordvoerder, Johan van Dyk, sê nakomingsondersoeke het ook op immigrasie en sakeverwante kwessies konsentreer en dit het gelei tot die aanhouding van 53 onwettige immigrante:
# Die gesin van die 21‑jarige Zenande Chiloane wat in die Krokodilrivier in Mpumalanga vermis geraak het sê hulle bly hoopvol terwyl die soektog sy sesde dag bereik. Reddingspanne beplan om ‘n helikopter in te span om te help. ‘n Voertuig met drie insittendes het versuim om by ‘n kruising in die KaMagugu/Universiteit van Mpumalanga-gebied te stop. Twee van die slagoffers is reeds gevind. Daar word vermoed dat die voertuig teen ‘n hoë spoed gery het voor die ongeluk plaasgevind het. Owerhede het nog nie verdere besonderhede oor die voorval bekend gemaak nie.
# Die Bulle se losskakel Handré Pollard sê die span se karakter en veerkragtigheid sal hul grootste bate wees wanneer hulle volgende Vrydag in Dublin teen Leinster meeding vir hul eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-titel. Die Bulle speel in hul vierde eindstryd in vyf seisoene van die kompetisie, terwyl Leinster mik na ‘n tweede agtereenvolgende titel. Pollard glo die eindstryd sal bepaal word deur die span wat hul emosies die beste kan beheer. Hy voeg by die span het hard gewerk om die eindstryd te haal, en hoop nie die groot geleentheid is te oorweldigend nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-739-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-210-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Prinses Bajrakitiyabha (Uitspr: Bash-rakiti-jabba) van Thailand, wat langer as drie jaar in ‘n koma was, het in die ouderdom van 47 gesterf. Sy het in Desember 2022 ineengestort terwyl sy haar honde laat oefen het. Haar dokters het dit toegeskryf aan ‘n ernstige onreëlmatige hartklop, veroorsaak deur ‘n infeksie in haar hart. Die prinses was as ‘n prokureur opgelei en het twee grade van die Cornell Universiteit in Amerika verwerf. Haar vermoëns en die vertroue wat haar pa in haar gehad het, veroorsaak bespiegelings oor die troonopvolger. Koning Vajiralongkorn, wat 73 jaar oud is, het nog nie ‘n opvolger aangewys nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….