Nuus 14:00
BULLETIN 12 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank ondersoek dobbelreus Betway oor die beweerde oortreding van regulasies
# Steve Letsike dien ‘n verslag by die Parlement in oor die uitwissing van diskriminasie teen vroue
# En: Elon Musk se SpaceX samel 75-miljard-dollar in voor die wêreld se grootste aandelemark-bekendstelling
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek die dobbelreus Betway vir die beweerde oortreding van die Suid-Afrikaanse Valutabeheerregulasies. Volgens die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek gaan die ondersoek oor die manier waarop Super Group se Suid-Afrikaanse bedrywighede betaal het vir sagtewarelisensies en ander dienste wat ander dele van die multinasionale groep lewer. Super Group, wat Betway besit, sê die saak hou verband met transaksies van die verlede waarin fondse aan buitelandse organisasies oorbetaal is. Super Group het verlede jaar ‘n inkomste van meer as 11,5-miljard-rand in Suid-Afrika gegenereer.
# Die adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, het die Parlement ingelig oor Suid-Afrika se sesde periodieke verslag oor die Konvensie oor die Uitwissing van Alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue. Letsike het verduidelik dat die kabinet die finale verslag nog nie goedgekeur het nie. Sy het gesê die verslag toon vordering en uitdagings in die bevordering van geslagsgelykheid tussen 2015-2025, en beklemtoon die impak van Covid-19, werkloosheid en ongelykheid op vroue:
# Die GOOD-party sê die Ouditeur-generaal se bevindings oor verkrygingsprosesse in die Stad Kaapstad bevestig die bekommernisse wat inwoners, gemeenskapsaktiviste en opposisiepartye al jare lank opper. ‘n Partywoordvoerder, Suzette Little, sê die metro se terugsak van ʼn skoon oudit-uitslag na ʼn ongekwalifiseerde oudit met bevindings is nie ʼn geringe administratiewe kwessie nie. Sy sê die OG se bevinding dat swak plekke bestaan in die evaluering van bod-aanbiedings en die nakoming van verkrygingsvereistes, wek ernstige kommer:
# SpaceX het 75-miljard-dollar by finansiële instansies ingesamel voor hy ‘n openbare verhandelde onderneming word met na verwagting die andelenotering met die hoogste waarde ooit. Die ruimteverkennings- en kunsmatige intelligensie-onderneming het gesê dit volg nadat aandele teen 135-dollar elk verkoop is. Die onderneming se aanvanklike aandelemarkwaarde sal bykans 1,8-duisend-miljard-dollar wees, gebaseer op die SpaceX-aandeelprys ramings, wat die uitvoerende hoof, Elon Musk, die wêreld se rykste man ooit sal maak. As aandele teen 135-dollar of meer verkoop wanneer handel vandag open, sal SpaceX onmiddellik een van die waardevolste openbare ondernemings ter wêreld word.
Motorsport: George Russell van Mercedes sê hy hoop om sy onlangse terugslae die naweek in die Catalunya Grand Prix in Barcelona om te keer. Hy het weens ‘n tegniese probleem geen punte in Kanada aangeteken nie en ook nie in Monaco nie ná ‘n laat deurry-straf. Russell het ‘n agterstand van 68 punte op die bestuurderskampioenskap-punteleer teenoor sy spanmaat Kimi Antonelli. Russell hoop op ‘n normale wedren in Barcelona:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-577-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-206-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….