Nuus 11:00
BULLETIN 1 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê deelname aan die verkiesing is deurslaggewend vir die demokrasie
# Die Universiteit Stellenbosch word gemaan om ontslae te raak van sy toksiese uitsluitingskultuur
# En slegs 300-duisend toeskouers mag die openingseremonie van die Olimpiese Spele langs die Seine bywoon
# Cosatu sê burgers moet aan die komende verkiesing deelneem om demokrasie te handhaaf, en doen ‘n beroep op alle stemgeregtigde burgers om hierdie naweek te registreer. Die federasie vra die jeug, nuwe kiesers en diegene wat van adres verander het om te registreer en voort te bou op die voordele wat sedert 1994 behaal is. Matthew Parks van Cosatu sê die demokratiese voordele moet die grondslag wees vir ekonomiese groei, werkloosheids-vermindering, verbetering van dienste sowel as die voortdurende stryd teen misdaad en korrupsie:
# ActionSA in KwaZulu-Natal sê die eThekwini-munisipaliteit stuur op ‘n ramp af nadat burgemeester Mxolisi Kaunda sy pos behou het. Die burgemeester het ʼn mosie van wantroue oorleef wat die IVP teen hom ingedien het. Die EFF wat eThekwini in ʼn koalisie met die ANC regeer, het ten gunste van die mosie gestem, terwyl sommige kleiner partye buite stemming gebly het. Sanelisiwe Zuma van ActionSA sê Kaunda het by vele geleenthede bewys hy is onbevoeg om sy ampspligte uit te voer:
# Die Grondwetkenner en hoogleraar, Pierre de Vos, sê dit is duidelik die Universiteit Stellenbosch kon nog nie daarin slaag om die toksiese uitsluitingskultuur in sommige koshuise uit te roei nie, met sommige wit inwoners en alumni wat aktief weerstand bied teen só ‘n stap. Tekeninge wat blykbaar seksuele aanranding uitbeeld, swart kappies en ’n giftige mengsel van lynolie en aalwynkristalle is in twee kamers by die universiteit se oudste manskoshuis, Wilgenhof, ontdek. De Vos sê beslissende en radikale stappe is noodsaaklik om dié voortslepende giftige kultuur uit te wis.
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê slegs ‘n tweestaat-oplossing, met Israel en die Palestyne wat langs mekaar woon, kan regverdige en blywende vrede en bestendigheid in die streek verseker. Byna 30-duisend mense is dood sedert die Israel/Hamas-oorlog in Oktober verlede jaar weer opgevlam het. Guterres sê daar is geen regverdiging vir die opsetlike doodmaak, marteling of ontvoering van burgerlikes, of die lansering van vuurpyle na burgerlike teikens nie. Hy het ook sy oproep op skenkerlande herhaal om nie hulle befondsing aan die VN se Hulp- en Werksagentskap in Gaza op te skort nie:
# Nuus van die Olimpiese Spele: Die Franse regering het bekendgemaak daar is ʼn beperking op die aantal toeskouers by die openingseremonie van die Spele in Parys, as gevolg van kwessies soos sekerheid en ander organisatoriese uitdagings. Slegs 300-duisend mense sal op die oewers van die Seine toegelaat word wanneer die plegtigheid op 26 Julie op bote op die beroemde rivier plaasvind. Die minister van Binnelandse Sake, Gerald Darmanin, sê 100-duisend kaartjies is reeds verkoop vir plekke met die beste uitsig, terwyl nog 200-duisend toeskouers gratis toegang tot die boonste oewer sal hê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-118-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-43-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….