Nuus 09:00
BULLETIN 12 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê voorbereidings vir die plaaslikeregeringsverkiesing vorder goed
# Die VF Plus sê Johannesburg kan nie ‘n salarisooreenkoms van 10,3-miljard-rand bekostig nie
# En Iran sê geen ooreenkoms met die VSA is nog gefinaliseer nie
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê voorbereidings vir die komende plaaslikeregeringverkiesing in November verloop vlot. Hy het gister die voorlegging van die Departement van Samewerkende Bestuursbegrotingstemming aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê. Hlabisa sê vier-duisend-488 stadswyke is gefinaliseer. Dis ‘n toename van 20 wyke van die vier-duisend-468 in 2021. Hy het bygevoeg hierdie wyke bly die mees regstreekse skakel tussen gemeenskappe en die regering:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê Suid-Afrika wil bande met China versterk wat wetenskap, tegnologie en innovering betref. Die minister het gister ‘n bilaterale hoëvlak-vergadering met die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Wu Peng, gehou. Dis in aanloop tot volgende week se Wêreld KI-konferensie en hoëvlakvergadering oor wêreldwye KI-bestuur in Sjanghai, China. Nzimande sê albei lande werk goed in belangrike areas van menslike ontwikkeling:
# Die Vryheidsfront Plus sê die salarisooreenkoms tussen die ANC-geleide koalisie in die Johannesburgse metroraad en die vakbond SAMWU is in die metro se huidige finansiële posisie eenvoudig onbekostigbaar. Die ooreenkoms van 10,3-miljard-rand sal oor ʼn tydperk van twee jaar ingestel word. Franco de Lange van die VF Plus sê alhoewel burgemeester Dada Morero volhou dat die ooreenkoms noodsaaklik is om werkers tevrede te hou, is die werklikheid dat enige organisasie onder finansiële druk moeilike besluite moet neem:
# Iran sê hy het nog nie ʼn finale besluit geneem oor enige ooreenkoms nie en beklemtoon berigte van ʼn afgehandelde ooreenkoms met Amerika is “blote bespiegeling”. President Donald Trump het verklaar die laaste kwessies van ʼn ooreenkoms om die oorlog te beëindig, is goedgekeur. ʼn Woordvoerder van Iran se ministerie van Buitelandse Sake, Esmail Baghaei, sê die grootste deel van die memorandum is reeds afgehandel, maar volgens hom stel Amerika buitensporige nuwe eise. Hy sê Iran gaan nie toegewings maak oor wat hy as sy rooi lyne beskryf nie.
# Krieket: Die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi in Engeland en Wallis begin vandag met die openingswedstryd tussen Engeland en Sri Lanka in Birmingham. Môre sal die Proteas hul veldtog teen Australië in Manchester begin, terwyl Ierland en Skotland vroeër op dieselfde veld ontmoet. Suid-Afrika se ander groepwedstryde is teen Pakistan, Indië, Nederland en Bangladesj. Die halfeindrondes word op die 30ste van hierdie maand en die tweede Julie gespeel, met die eindstryd op Lord’s in Londen op die vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-704-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-192-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….