Nuus 13:00
BULLETIN 11 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n FNB-ekonoom verbind die insinking in die boubedryf met hoër insetkostes
# Kanada stel wetgewing bekend om toegang tot sosiale media vir kinders onder 16 te beperk
# En padwedlope: Kaapstad sluit by sewe ander stede aan in die Wêreldmarathonreeks
# FBN en die Buro vir Ekonomiese navorsing se bouvertroue-aanwyser toon Suid-Afrika se bousektor was in die tweede kwartaal meer pessimisties, en het van 42 in die vorige kwartaal tot 38 gedaal. FNB se ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê die afname hou verband met swakker boubedrywighede, laer winsgewendheid en stygende koste, deels aangevuur deur wêreldwye onsekerheid as gevolg van die konflik in die Midde-Ooste:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het streng gevolgebestuur en aanspreeklikheidsprosesse ingestel by die boubedryf se onderwys- en opleidingsowerheid, CETA. Dis in Augustus verlede jaar onder administrasie geplaas weens ingewortelde mislukkings, insluitend vier agtereenvolgende gekwalifiseerde ouditmenings en aansienlike oortoekenning van nie-verpligtende toelaes. Laasgenoemde het meer as 2,7-miljard-rand teen ‘n beperkte inkomste beloop. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê ʼn skulderkenning is onderteken:
# Die Kanadese regering het die Wet op Veilige Sosiale Media ingestel om sosiale media platforms en kunsmatige-intelligensie-dienste aanspreeklik te hou en toegang vir kinders onder 16 te beperk. Ouers en aktiviste vra die versterking van kinders se aanlyn veiligheid en ander lande oorweeg soortgelyke wetgewing. Die minister van Kultuur, Marc Miller, sê hoewel bestaande wette kan reageer nadat skade aangerig is, is daar tans baie min om die skade te voorkom:
# Padwedlope: Kaapstad is ingesluit in die Wêreldmarathonreeks – die eerste wedloop in Afrika wat erkenning kry en die agste wêreldwyd. Vanjaar se geleentheid op 24 Mei was die laaste beoordelings-fase. Die Moederstad sluit aan by Tokio in Japan, Boston, Chicago en New York in Amerika, die Britse hoofstad, Londen, Sydney in Australië en die Duitse hoofstad, Berlyn. Die reeks se uitvoerende hoof, Dawna Stone, sê Kaapstad se unieke kultuur, verwelkomende inwoners en wonderlike natuurskoon bied ‘n heel nuwe ervaring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-737-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-84-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Gesondheidsdeskundiges waarsku toenemende spanning, hartsiektes en te min slaap onder Suid-Afrikaanse mans dra by tot ‘n groeiende las van chroniese siektes. Lang werkure, skofwerk en leefstyldruk verhoog die gevaar van kardiovaskulêre siektes, diabetes en langtermyn-inflammasie. ‘n Navorser van die Universiteit Stellenbosch, Gerald Maarman, sê rooibostee, wat kafeïenvry is, kan help om slaap te verbeter en hartgesondheid te ondersteun wanneer dit as deel van ‘n gesonde leefstyl gebruik word, hoewel dit nie ‘n mediese behandeling is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….