Nuus 12:00
BULLETIN 11 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê Suid-Afrika se townships het in oorlogsones ontaard
# Suid-Afrikaanse banke wend hulle tot outomatisering om koste te besnoei
# En sokker: Bafana Bafana se afrigter erken Mexiko is hulle sterkste teenstander in Groep A
# Die Activists and Citizens Forum sê die regering en die polisie moet meer doen om die veiligheid van Suid-Afrikaners te verseker, veral in hoërisiko-misdaadgemeenskappe. Dit volg ná Dinsdagaand se massaskietery in die Jumpers-informele nedersetting in Cleveland, Johannesburg, wat die lewens van 12 mense geëis het. Nege mense is beseer. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê swart lewens het goedkoop en waardeloos geword:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, vra dat die hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, geskors word. Hy is voor die Madlanga-kommissie onder meer daarvan beskuldig dat hy by misdaad-ondersoeke ingemeng het. Khan is tans uit op borgtog in ‘n saak oor edelmetale nadat hy saam met die gewese hoof van die Valke in Gauteng, Ebrahim Kadwa, in hegtenis geneem is. Cameron sê amptenare wat vermoedelik die wet oortree het, moet geskors word om die integriteit van voortgesette ondersoeke te beskerm.
# Groot banke in Suid-Afrika gebruik toenemend outomatisering om doeltreffendheid te verbeter en bedryfskoste te verminder. Die banksagtewareverskaffer Avaloq sê baie banke probeer om ingewikkelde ouer stelsels met geïntegreerde digitale platforms te vervang wat prosesse stroomlyn en die afhanklikheid van groot agterkantoor-spanne verminder. Die onderneming sê outomatisering kan transaksie-verwerking aansienlik verbeter en opkomende tegnologieë soos kunsmatige intelligensie ondersteun. Banke is ook onder druk om dienste te vernuwe en koste te verlaag te midde van ‘n voortdurende afname in die vraag na banktakke.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê die land se Weermag het sedert verlede maand ‘n geheime operasie uitgevoer om olietenkskepe deur die Seestraat van Hormuz te laat vaar. Sowat 20-persent van wêreldpetroleumvoorrade word normaalweg deur die roete vervoer, maar verkeer is erg ingekort sedert die Amerikaans/Israelse aanvalle op Iran in Februarie. Trump sê die geheime operasie het gehelp om handelskepe en meer as 100-miljoen vate olie deur die seestraat te help:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het Suid-Afrikaners verseker die span gaan alles in die stryd werp in vanaand se Wêreldbeker-openingswedstryd teen die mede-gasheer, Mexiko, in die Azteca-stadion in Mexikostad. Dis ‘n herhaling van 2010 se toernooi toe die twee lande in Johannesburg 1-elk gelykop gespeel het. Broos sê die wedstryd sal moeilik wees, veral omdat dit voor 85-duisend gillende en singende Mexikane gespeel word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-749-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-101-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….