Nuus 11:00
BULLETIN 11 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika wil meer beleggingsgeleenthede met Mexiko skep
# Iran sê Amerika moet sy dreigemente staak as hy ‘n ooreenkoms wil bereik
# En sokker: Bafana Bafana se afrigter erken Mexiko is hulle sterkste teenstander in Groep A
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering werk daaraan om bilaterale betrekkinge met Mexiko te versterk. Hy wil ook handelsbande uitbrei en meer beleggingsgeleenthede skep. Lamola en die Mexikaanse minister van Buitelandse Sake, Roberto Velasco Álvarez, het in Mexiko-stad ontmoet voor die Bi-nasionale Kommissie tussen die twee lande. Mexiko is een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote in Latyns-Amerika. Lamola beskryf die ontmoeting as betekenisvol:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, vra dat die hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, geskors word. Hy is voor die Madlanga-kommissie onder meer daarvan beskuldig dat hy by misdaad-ondersoeke ingemeng het. Khan is tans uit op borgtog in ‘n saak oor edelmetale nadat hy saam met die gewese hoof van die Valke in Gauteng, Ebrahim Kadwa, in hegtenis geneem is. Cameron sê amptenare wat vermoedelik die wet oortree het, moet geskors word om die integriteit van voortgesette ondersoeke te beskerm.
# Nelson Mandelabaai se Sakekamer is sterk gekant teen die metro se voorgestelde gemiddelde kragtarief-verhoging van elf-persent. Uitvoerende hoof Denise van Huyssteen sê ondernemings is reeds onder druk weens stygende brandstofkoste, duur logistiek en onbetroubare munisipale infrastruktuur. Sy meen die verhoging weerspieël nie die werklike koste nie en sal mededingendheid en werkskepping verder benadeel. Van Huyssteen is ook bekommerd oor gereelde kragonderbrekings en verouderende infrastruktuur. Sy vra die metro om instandhouding te verbeter, elektrisiteitsverliese te verminder en veiligheid te versterk by belangrike kragaanlegte.
Nuus uit die buiteland:
# Iran sê hy het die reg tot selfverdediging teen enige gewapende aggressie. Amerika het vanoggend met ‘n tweede ronde lugaanvalle op Teheran begin ná president Donald Trump se waarskuwing dat die vertraagde onderhandelinge gestraf sal word. Iran het daarop Amerikaanse basisse in Bahrein, Koeweit en Jordanië aangeval. Iran se verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, sê Amerika moet sy dreigemente staak as hy werklik ‘n diplomatieke oplossing wil hê:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het Suid-Afrikaners verseker die span gaan alles in die stryd werp in vanaand se Wêreldbeker-openingswedstryd teen die mede-gasheer, Mexiko, in die Azteca-stadion in Mexikostad. Dis ‘n herhaling van 2010 se toernooi toe die twee lande in Johannesburg 1-elk gelykop gespeel het. Broos sê die wedstryd sal moeilik wees, veral omdat dit voor 85-duisend gillende en singende Mexikane gespeel word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-585-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-94-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….