Nuus 07:00
BULLETIN 11 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola verwerp die vals inligting oor buitelandse burgers wat vermoor word
# AfriForum vra vir ‘n dringende hersiening van die bek-en-klouseer-reaksie
# En sokker: Suid-Afrikaners word aangemoedig om Bafana Bafana te ondersteun voor die Mexiko-kragmeting
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê hy erken onlangse spanning oor buitelanders het Suid-Afrika se verhoudings in Afrika geraak, maar waarsku teen waninligting. Volgens berigte uit Ghana is twee Nigeriërs dood en 15 Ghanese in die hospitaal opgeneem nadat hulle tydens onlangse betogings teen buitelanders aangerand is. Lamola het aan ‘n Ghanese radiostasie gesê Suid-Afrika en Ghana het sterk geskiedkundige bande wat beskerm moet word:
# Adjunkpresident Paul Mashatile, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad, sluit vandag die laaste sitting van die negende Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-konferensie in Boksburg, Gauteng, af. Die vierdaagse konferensie met die tema “Vuka, Let’s Unite Towards a TB-Free World!”, het besin oor vordering in die stryd teen TB, en maatreëls geïdentifiseer om Suid-Afrika se reaksie op die siekte te versnel. Die Presidensie sê Mashatile sal die regering se verbintenis om TB uit te wis, bevestig en nuwe vennootskappe vra om die voortslepende uitdagings te hanteer.
# AfriForum is ontsteld nadat ‘n uitgelekte e-pos wys hoe ‘n senior amptenaar in die Departement van Landbou boere spot wat tydens die bek-en-klouseer-uitbreking om hulp vra. Die burgerregte-organisasie sê die regering was te stadig om op te tree en hou te veel beheer oor entstowwe. Lambert de Klerk van AfriForum wil hê boere, privaat veeartse en landbougroepe moet toegelaat word om met die inentingsprogram te help:
# Die EFF in Gauteng het Dinsdagaand se massaskietvoorval in die Jumpers informele nedersetting in Cleveland, Johannesburg, ten sterkste veroordeel. Twaalf mense is in die voorval dood. Die polisie reken die massaslagting hou verband met konflik oor onwettige myn-sindikate wat in die gebied bedrywig is. Die EFF sê onwettige mynbedrywighede het ʼn groot bron van georganiseerde misdaad, geweld en onbestendigheid in dele van die provinsie geword. Hy sê hy verwerp enige poging om die tragedie te gebruik om xenofobie te bevorder of om alle buitelanders daaroor te straf.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku oor die gevolge van toenemende geweld in die Midde-Ooste en vra volle ondersteuning vir ʼn tweestaat-oplossing. Vredesonderhandelinge tussen Amerika en Iran het tans ʼn dooiepunt bereik terwyl onlangse aanvalle dreig om die vordering wat reeds gemaak is, te ontspoor. Guterres het gister die Veiligheidsraad toegespreek en gewaarsku die skietstilstand tussen Amerika en Iran bly onseker en beskryf dit as “meer soos ʼn kleiner vuur”:
# Die regering het Suid-Afrikaners gevra om agter Bafana Bafana te staan terwyl die nasionale span voorberei om vanaand op die Mexikostad-stadion in hul openingswedstryd in die 2026 FIFA Wêreldbeker teen Mexiko te speel. Amptenare sê die span verteenwoordig die vasberadenheid, dissipline en veggees van die nasie. Suid-Afrikaners word aangemoedig om groen en goud op “Bafana Vrydae” te dra as ‘n teken van hul ondersteuning. Die regering sê sokker en Bafana se mededinging op die wêreldverhoog het die vermoë om die land te verenig en nasionale trots aan te wakker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-113-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-105-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….