Nuus 17:00
BULLETIN 10 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SASSA verskerp pogings om wagtye te verkort
# Getuie “I” ontken enige oortreding gedurende polisie-optrede tydens Aeroton-dwelmklopjag
# En, die DA is teleurgesteld nadat die waarnemende minister van Polisie pleidooie ignoreer oor tekort aan verkragtingtoetsstelle
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA verskerp sy pogings om dienslewering te verbeter en wagtye te verminder. Die agentskap het ‘n nasionale opleidingsprogram bekendgestel om sy bestuurstelsel eenvormig te maak as deel van sy 2025 tot ’30-strategiese plan. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, sê die projek het ten doel om wagtye te verkort en opeenhoping te verminder. Hy sê doeltreffendheid sal verbeter met digitale hulpmiddels en voorrang gee waar dit nodig is:
# Getuie “I” het aan die Madlanga-kommissie gesê opmerkings wat tydens ‘n vergadering met ‘n Misdaadintelligensie-agent en sakeman Brown Mogotsi in Sandton gemaak is, was nie ‘n erkenning van oortreding nie. Hy het vermoed die vergadering is in die geheim opgeneem en het saamgespeel. Hy beweer die twee het hom probeer oorreed om sy verklaring rakende generaal-majoor Feroz Khan tydens ‘n dissiplinêre verhoor te verander, maar geen betaling is ooit gemaak nie:
# Die DA het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, veroordeel omdat hy nie gister tydens die voorlegging van sy begroting verwys het na die gebrek aan verkragting-toetsstelle nie. Logistiek en verskaffingsketting-mislukkings belemmer die beskikbaarheid by polisiestasies en spesialis-eenhede. Woordvoerder Nicholas Gotsell sê die feit dat die stelle nie by polisiestasies of eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings beskikbaar is nie, nie, beteken bewysstukke kan nie ingesamel word nie:
# Die Namibiese Kamer van Mynwese sê beleidsekerheid bly van kritieke belang om beleggings in die mynbousektor te lok en te behou. Die regering oorweeg ‘n beleid waarvolgens nuwe mynbou-ondernemings plaaslike eienaarskap van 51-persent moet hê. Die kamer se uitvoerende hoof, Fabian Shaanika, sê voornemende beleggers benodig duidelike en voorspelbare regulasies. Hy sê die bedryf se grootste kwelpunt is nie noodwendig die eienaarskaps-drempel nie, maar die onsekerheid weens onopgeloste beleidsbesprekings:
# Sokker: Die Brasiliaanse ster-speler Neymar voel soos ‘n kind om in sy vierde en laaste Wêreldbekertoernooi te speel. Die land se rekordhouer-doelskieter, met 79 doele in 128 wedstryde, sê hy herstel goed van ‘n dybesering. Neymar het sy eerste toernooi in 2014 tuis gespeel en daarna ook in Rusland in 2018 en Katar in 2022. Die 34-jarige gaan Brasilië se eerste wedstryd teen Marokko Saterdag in New Jersey in Amerika misloop. Die vyfmalige kampioen se ander groepswedstryde is teen Haïti en Skotland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-582-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-145-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….