Nuus 09:00
BULLETIN 10 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia sê geweld teen buitelanders beperk buitelandse beleggings
# Cosatu sê die 0,5-persent BBP-groei is nie genoeg nie
# En die VSA voer selfverdedigingsaanvalle teen Iran uit
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê onwettige immigrasie is onaanvaarbaar en streng maatreëls is nodig om grensbeheer en toepassing van immigrasiewette te versterk. Dit kom te midde van die afgelope maande se landwye betogings teen buitelanders. Cachalia sê gewelddadige betogings teen buitelanders keer buitelandse beleggings en ondermyn die land se kanse op ekonomiese groei en werkskepping. Hy beklemtoon dat slegs die polisie en die Grensbestuursagentskap die reg het om mense vir immigrasie-oortredings te arresteer:
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die Suid-Afrikaanse ekonomie se groei van 0.5-persent tussen Januarie en Maart in die eerste kwartaal van hierdie jaar, is nie naastenby genoeg nie. Aan die produksiekant van die ekonomie was die grootste dryfvere finansies, landbou, handel en vervoer. Matthew Parks van Cosatu sê die ekonomie sal vinniger moet groei om ‘n voortgesette en betekenisvolle daling in die land se hardnekkig hoë werkloosheidsyfer te genereer:
# Die Gautengse regering verwelkom die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar se afname in talle belangrike misdaad-kategorieë soos moord, verkragting en voertuigkapings. Kontakmisdade in die provinsie het met 5,9-persent gedaal en moord en poging tot moord met 15-persent en 3,2-persent onderskeidelik. Verkragting het met 9,9-persent afgeneem en seksuele geweld het met 5,2-persent toegeneem. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê ten spyte van die positiewe neiging, sal pogings om misdaad te bekamp verskerp word:
# Amerikaanse magte het uit vergelding drie reekse aanvalle teen Iran uitgevoer nadat ‘n Apache-weermaghelikopter afgeskiet is. President Donald Trump beskuldig Teheran dat hy Maandag die helikopter oor die Straat van Hormoes afgeskiet het. Die twee bemanningslede aan boord is gered. Amerika se Sentrale Bevel sê die aanvalle is in verhouding met Iran se onregverdigbare aggressie. Hy sê hulle bly waaksaam en gereed om hulself teen Iran se ongeregverdigde aggressie te verdedig.
# Sokker: Drie Brasiliaanse skeidsregters sal môre se Wêreldbeker-openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko in Meksikostad behartig. Wilton Sampaio sal die fluitjie dra, met Bruno Pires en Bruno Boschilia as assistente. Sampaio was ook betrokke by die vorige twee Wêreldbekers in Katar en Rusland. ‘n Rekordgroep van 52 skeidsregters en 88 assistentskeidsregters is saamgestel, terwyl aanstellings vir spesifieke wedstryde gewoonlik twee tot drie dae voor die tyd bekendgemaak word. Afskoptyd tussen Bafana Bafana en Mexiko is môreaand om nege-uur Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-448-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-185-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….