Nuus 16:00
BULLETIN 9 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistiek Suid-Afrika teken ‘n 0,5-persent ekonomiese groei aan vroeg in 2026
# Suid-Afrika en Italië onderteken ‘n ooreenkoms om landbou-marktoegang te versterk
# En tennis: Federer gaan by Agassi, Roddick en McEnroe aansluit in ‘n vertoongeleentheid voor die Amerikaanse Ope
# Suid-Afrika se ekonomie het volgens Statistiek Suid-Afrika in die eerste kwartaal met 0,5-persent gegroei, effens beter as wat verwag is. Hoofdirekteur Bokang Vumbukani-Lepolesa sê dis aangevuur deur die dienste- en basiese sektore, met finansies en landbou wat beduidend bygedra het. Vervaardiging het egter die algehele prestasie beïnvloed, met vyf van sy tien afdelings wat negatiewe groei aangeteken het. Vumbukani-Lepolesa waarsku ongelyke prestasie tussen sektore dui steeds op onderliggende strukturele uitdagings:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Landbou is bekommerd oor die doeltreffendheid van die Gemengde-befondsingsprogram wat toelaes en lenings saamvoeg om die kommersialisering van swart boere te ondersteun. Parlementslede het op ‘n voorlegging vrae gestel oor vertragings met befondsing, gebrekkige ondersteuning ná beleggings, en vordering van sukkelende projekte in Noordwes. Voorsitter Dina Pule sê die fokus bly op die vestiging van volhoubare boerderye, werkskepping en groei in landelike ekonomieë. Die Departement van Landbou en die Landbank sê daar is ‘n verbetering in toesig en die ondersteuning van boere.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en sy Italiaanse ampsgenoot, Francesco Lollobrigida, het ‘n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om samewerking in landbou, landbouverwerking, vernuwing en marktoegang te versterk. Die ooreenkoms is in Kaapstad onderteken tydens die eerste Suid-Afrika–Italië Landbou-sakeforum. Steenhuisen sê die vennootskap het ten doel om handel, belegging en waardetoegevoegde landbouvennootskappe tussen die twee lande uit te brei en voedselproduksie te bevorder:
# ActionSA verwelkom die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se uitnodiging om gesamentlik toesig te hou oor Gautengse hospitale. Die party is egter bekommerd oor betwiste databronne, insluitend ‘n opname van 2013 en ‘n beskrywende studie verlede jaar wat volgens hulle nie ‘n betroubare beeld van vermoë of oorvol afdelings bied nie. Woordvoerder Mongezi Ntsebenzo sê hulle het ‘n voorlopige vergadering versoek om teenstrydighede uit te klaar en ooreen te kom oor ‘n deursigtige werkswyse:
# Tennis: Die gewese Switserse meester Roger Federer se deelname is bevestig aan ‘n vertoongeleentheid voor die Amerikaanse Ope. Hy sluit aan by die Amerikaners Andre Agassi, Andy Roddick en John McEnroe op die Arthur Ashe-stadion op Flushing Meadows op 25 Augustus. Die 44-jarige Federer het vyf van sy 20 Grand Slam-titels in New York verower. Hy sê hy het dit gemis om deel te wees van die atmosfeer sedert sy uittrede in 2022, en dit sal meer betekenisvol wees om die geleentheid met die ander drie te deel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-678-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-339-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….