Nuus 14:00
BULLETIN 9 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema eis tronkstraf vir Mchunu in ‘n saak van minagting van die hof
# Suid-Afrika en Italië versterk landboubande
# En padwedlope: ‘n Pretoriase student neem deel aan die Comrades om gegradueerdes te help om studieskuld te betaal
# Die EFF-leier, Julius Malema, het ‘n dringende aansoek van minagting van die hof teen die voormalige radiopersoonlikheid Ngizwe Mchunu by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Hy vra dat Mchunu ses maande-tronkstraf opgelê word sonder die keuse van ‘n boete. Die aansoek beweer Mchunu het voortgegaan met lasterlike uitlatings teenoor Malema ondanks Vrydag se hofbevel. Mchunu het Malema beskuldig dat hy geld van Nigeriese dwelmhandelaars ontvang en na bewering voordeel getrek het uit die mislukte VBS Mutual Bank. Die saak word volgende Woensdag aangehoor.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra ‘n dringende verduideliking oor berigte dat die Departement van Korrektiewe Dienste nie rekenskap kan gee van derduisende paroolgangers onder sy toesig nie. Daar is blykbaar nie inligting oor byna 28-duisend paroolgangers wat aan misdade soos moord, verkragting en gewapende roof skuldig bevind is nie. Woordvoerder Claude Naicker sê die geskiedenis het talle kere bewys dat paroolgangers wat nie doeltreffend gemonitor word nie, weer misdade kan pleeg:
# Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Italië, Nosipho Jezile, sê die twee lande deel ‘n verbintenis om landbou as ‘n dryfveer vir voedselsekerheid, werkskepping en landelike ontwikkeling te gebruik. Jezile het tydens die Suid-Afrika-Italië Landbousakeforum in Kaapstad besprekings verwelkom wat gerig is op landboutegnologie, waterbestuur en waardetoegevoegde verwerking. Sy sê sterker vennootskappe is noodsaaklik om klimaatsverandering, druk op voedselsekerheid en oorgrens-dieresiektes die hoof te bied:
# Padwedlope: ‘n Meestersgraad-student in Landbou-plantpatologie aan die Universiteit van Pretoria, Qiniso Sithole, gaan Sondag aan die Comrades-marathon deelneem om die instelling se Degrees Delivered-veldtog te ondersteun. Die projek is daarop gemik om gegradueerdes se geskiedkundige studenteskuld te delg sodat hulle toegang kry tot die graadsertifikate wat hulle reeds verdien het. Sithole sê studente wat nie hulle studies kan befonds nie, kan ook nie hulle drome befonds nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-725-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Die wenners van die Standard Bank-jongkunstenaartoekenning vir 2026 sal hul nuwe werk op die Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap bekendstel. Die kunstenaars sal teater, dans, musiek, jazz en visuele kuns ten toon stel, en temas soos identiteit, kultuur, genesing en erfenis verken. Hoogtepunte sluit in Jason Jacobs se teaterstuk Kraal, die danser Lee-Che Janecke se persoonlike verhaal deur beweging, Manana se musiekuitvoering met ‘n volle orkes, Gabi Motuba se jazzproduksie ‘The Sounds of a Black Girl’, en Bronwyn Katz se visuele kunsuitstalling oor taal en geheue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….