Nuus 12:00
BULLETIN 9 June 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verskerp sy stryd om die Padongelukkefonds te skrap
# Die polisie verskerp die nasionale Operasie Shanela se optrede teen georganiseerde misdaadnetwerke
# En Suid-Afrika maak gereed vir Afrika se grootste Lugruim- en Verdediging-skou
# Die DA sê hy verskerp sy stryd teen planne wat die minister van Vervoer, Barbara Creecy, oorweeg om motoriste meer te laat betaal om die mislukte Padongelukkefonds te ondersteun. Sy kyk na nuwe befondsingstrome, met een moontlikheid om ‘n ekstra fooi by die jaarlikse hernuwings van lisensieskyfies te voeg. Die DA sê die fonds is in ‘n krisis weens jare se wanbestuur, korrupsie, vermorsing en swak bestuur. Hy sê hulle praat met Creecy oor planne om die fonds met behulp van wetswysigings te vervang.
# Die Wes-Kaapse regering is nog nie seker wanneer die pad na die Kango-grotte in die Klein-Karoo weer oopgestel sal word nie. Onlangse storms het verdere skade aangerig ná ‘n groot rotsstorting. Die roete is reeds sedert 6 Mei gesluit. Die LUR vir infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê spesialis-geotegniese spanne het weer begin met pogings om die helling bestendig te kry. Hy sê veiligheids-ingrypings moet voltooi word voor die puin opgeruim kan word:
# Die polisie het sy landwye Operasie Shanela verskerp met strenger optrede teen georganiseerde misdaadnetwerke wat betrokke is by onregmatige handel, dwelmhandel, onwettige immigrasie en ander ernstige en geweldsmisdade. Intelligensiegedrewe operasies het verlede week gelei tot die inhegtenisneming van 17-duisend-587 verdagtes, insluitend twee-duisend-549 gesoekte persone wat verbind word met ernstige en geweldsmisdade. Polisiewoordvoerder Vincent Mukhathi sê daar is ook beslag gelê op 127 ongelisensieerde vuurwapens:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, hou vol sy span sal Donderdag gereed wees om die medegasheer, Mexiko, te pak in hul Wêreldbeker-openingswedstryd. Hy sê hulle het die regte wedstrydplan, en moet dit net uitvoer. Suid-Afrika het op 29 Mei gelykop gespeel teen Nicaragua in Johannesburg en die afgelope naweek ook teen Jamaika in Pachuca. Broos verwag ‘n intimiderende atmosfeer en beklemtoon dat Mexiko ʼn gevaarlike span is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-870-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is gereed om in September die 13de tweejaarlikse Afrika Lugruim- en Verdedigingshandelskou op die Lugmagbasis Waterkloof in Pretoria aan te bied. Die tentoonstelling se direkteur, Nakedi Phasha, sê nie minder nie as 300 uitstallers van meer as 40 lande gaan deelneem. Hulle het meer as 200 amptelike afvaardigings genooi en teiken 100 bevestigde afvaardigings van 100 lande. Phasha voeg by sowat 60-duisend mense word tussen 16 en 20 September op die basis verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….