Nuus 07:00
BULLETIN 9 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA steun ‘n voorstel om Suid-Afrikaanse boere se toegang tot Amerikaanse markte te beskerm
# Die ATM wil Ramaphosa se hofhersiening van die Phala Phala-verslag teenstaan
# En die EU waarsku teen ‘n eskalasie in die Midde-Ooste na wederkerige aanvalle
# Die landbou-organisasie TLU SA het steun uitgespreek vir Sakeliga se voorstel oor die toekoms van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die organisasie doen ‘n beroep op ‘n nuwe benadering wat kwalifiserende ondernemings en produsente in staat sal stel om toegang tot die Amerikaanse mark te behou, selfs al verander verhoudings op nasionale vlak. Bennie van Zyl van TLU SA sê landbou is reeds onder druk van stygende koste en regulatoriese uitdagings:
# Die African Transformation Movement sê hy gaan dokumente indien wat president Cyril Ramaphosa se aansoek in die Wes-Kaapse Hooggeregshof teenstaan. Die president het vroeër die maand ‘n aansoek ingedien dat die hof die Artikel 89-paneel se verslag hersien en tersyde stel, en enige aksies van die Nasionale Vergadering in verband daarmee, ongeldig verklaar. Die Konstitusionele Hof het die weg gebaan vir ʼn ampsklag-ondersoek na Ramaphosa se optrede in verband met die diefstal van kontant op sy plaas, Phala Phala. ATM se leier, Vuyo Zungula, het herhaal dat Ramaphosa se hofaansoek grondwetlike aanspreeklikheid wil belemmer.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake doen ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om pogings te verskerp en seker te maak immigrasiewette word nagekom en doeltreffend toegepas. Dit kom terwyl optogte teen buitelanders landwyd voortgaan en daartoe lei dat buitelandse burgers die land verlaat. Die komitee-voorsitter, Mosa Chabane, sê onwettige migrasie kan nie in isolasie hanteer word nie omdat dit verbind word met groter sosio-ekonomiese probleme. Hy beklemtoon dat infrastruktuur by grensposte en kwesbare grensgebiede versterk moet word om die land se grensbestuur-vermoë te verbeter.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê hy verwag van die Stad Johannesburg om geloofwaardigheidsprobleme rakende inkomstes en uitgawes te hanteer. Die Ouditeur-generaal het verlede week berig die metro het ongemagtigde uitgawes van twee-miljard-rand gehad weens die onbefondsde aanpassingsbegroting. Die minister het in April gedreig om regeringsfondse aan Johannesburg te besnoei tensy hy verkwistende uitgawes hanteer en beplande munisipale verhogings kanselleer. Godongwana sê in ʼn parlementêre antwoord hy verwag alle probleme wat hy aan die raad uitgewys het, moet teen die einde van die maand opgelos wees.
# Die Europese Unie waarsku dat die terugkeer na ʼn volskaalse oorlog in die Midde-Ooste ʼn geweldige uitwerking op die hele streek sal hê. Iran en Israel het mekaar aangeval in die ergste voorvalle van geweld sedert die skietstilstand in April ingestel is. Die EU-hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sê die onmiddellike prioriteit is om gevegte te staak, die Straat van Hormoes te heropen en die tyd te gebruik om langer te beraadslaag oor moeilike kwessies soos kernkrag:
# Krieket: Die Protea-vrouespan speel vandag in hul laaste opwarmingswedstryd vir die T20 Wêreldbeker, teen Nieu-Seeland in Loughborough, Engeland. Suid-Afrika se eerste wedstryd van die toernooi is Saterdag teen Australië in Manchester, na Vrydag se openingswedstryd tussen Engeland en Sri Lanka by Edgbaston in Birmingham. Die Proteas sal ook teen Pakistan, Indië en Nederland in ‘n sterk groep een te staan kom. Die groepwedstryde sal gevolg word deur twee halfeindstryde en die eindstryd by Lord’s in Londen op 5 Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-772-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-337-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….