Nuus 18:00
BULLETIN 8 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê groepe wat dokument-inspeksies uitvoer en migrante aanrand moet ophou
# Die Chinese president Xi Jinping wil bande met Noord-Korea hernu
# En sokker, Banyana Banyana wil terugslaan in die tweede vriendskaplike kragmeting met Japan
# Die vakverbond SAFTU vra die onmiddellike inhegtenisneming en vervolging van almal wat verantwoordelik is vir dade van intimidasie, aanranding, afpersing, gepeupelreg en geweld teen buitelandse burgers. President Cyril Ramaphosa het gister in sy toespraak beklemtoon geen persoon buiten gemagtigde regeringsamptenare mag bewys van burgerskap van mense eis nie. SAFTU-woordvoerder Asive Dyani sê ‘n versuim om beslissend op te tree skep ‘n gevaarlike idee dat sekere vigilante-groepe politieke beskerming het:
# Betogers van verskeie townships in Ekurhuleni, Gauteng, het na ‘n logistieke maatskappy in Boksburg opgeruk en die ontslag van buitelandse werknemers geëis. Dit volg ondanks president Cyril Ramaphosa se waarskuwing dat slegs regeringsamptenare immigrasiewette kan afdwing. Volgens News24 het die maatskappy verklaar sy buitelandse werknemers is wettig in diens en beweer die betoging is georganiseer deur ontslaande oudwerkers. Die twee partye het ooreengekom om volgende Woensdag te vergader om die saak te bespreek.
# Die Gautengse LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het inwoners gevra om voordeel te trek uit die Gautrein se KlevaMova-afslagprogram, met ongeveer sesduisend gebruikers wat tot dusver goedgekeur is. Sy het tydens die viering van die 16de bestaansjaar aan SABC Nuus gesê die plan will die spoordiens meer bekostigbaar en toegankliker maak vir armer pendelaars. Diale-Tlabela verwys na die diens se rol in ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en stedelike vernuwing, en uitbreidingsplanne onthul:
# Die Chinese leier, Xi Jinping, is op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Noord-Korea, sy eerste in sewe jaar. Dit vind plaas voor die 65ste herdenking van die ondertekening van die vriendskaps- en wedersydse bystandsooreenkoms tussen die twee lande – China se enigste verdrag oor wedersydse verdediging. Die verhouding tussen Noord-Korea en China was die afgelope paar jaar onder druk, veral weens Pjongjang se toenemende sterk band met Rusland. Die hoofdoel van die besoek is om die geskiedkundige noue bande tussen hulle weer te verstewig.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê Suid-Afrika sal die lesse uit Saterdag se nederlaag van 5-0 teen Japan gebruik om te verbeter voor môre se tweede internasionale vriendskaplike wedstryd in Osaka. Sy sê die nederlaag het hulle waardevolle lesse geleer voor die Afrikabekertoernooi vir Vroue, want Japan het elke fout blootgelê. Ellis sê om ‘n gedissiplineerde Asiatiese teenstander te trotseer, bied ander uitdagings as onlangse wedstryde teen teenstanders van Afrika. Die tegniese span ontleed die wedstryd en verfyn hul taktiese benadering voor môre se ontmoeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-549-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-321-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….