Nuus 12:00
BULLETIN 8 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola verwerp bewerings van Nigeriese en Ghanese slagoffers tydens betogings teen onwettige immigrasie
# Bedfordview se inwoners is nou 11 dae sonder water
# En rugby: Tony Brown verlaat die Springbokke ná die Wêreldbeker om by die All Blacks aan te sluit
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het berigte op sosiale media verwerp dat Nigeriese burgers dood en verskeie Ghanese beseer is tydens onlangse anti-immigrasie-betogings in die land. Hy noem die bewerings ongegrond en misleidend. Lamola bevestig wel wetstoepassings-agentskappe ondersoek die dood van twee Mosambiekse burgers wat blykbaar met die onrus in Mosselbaai verbind word. Hy herhaal ook Suid-Afrika se teenkanting teen xenofobiese geweld:
Intussen is die polisie in Limpopo ontplooi om vandag ‘n beplande betoging deur die teen-immigrasiegroep, March and March, te monitor. Die polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê verlede week is ses winkels wat aan buitelanders behoort, in die Matikiring-informele nedersetting geplunder. Die skade en waarde van die gesteelde goedere beloop sowat 394-duisend-rand. Drie verdagtes is aangekeer. Ledwaba sê drie polisievoertuie is ook beskadig:
# Inwoners van Bedfordview in Gauteng is steeds sonder water op dag 11 van ‘n deurlopende onderbreking, wat groeiende frustrasie en woede ontketen. ‘n Groot deel van Johannesburg se netwerk is herstel ná Rand Water se onderhoudsprogram, maar voorsieningsprobleme in die gebied duur voort. Inwoners sê gemeenskaplike watertenks word nie hervul nie, wat toestande vererger. Hulle beweer die stad Ekurhuleni het nog nie antwoorde verskaf oor wanneer die toevoer herstel sal word nie. Rand Water sê die onderhoud is voltooi, terwyl onderbrekings in fase twee volgende maand verwag word.
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Aardbewing van 7,8 het die Mindanao-streek in die suide van die Filippyne vanoggend getref. Minstens 15 mense is dood en 129 beseer. Sowat 138 naskokke is aangeteken. Die aardbewing het gelei tot tsunami-waarskuwings in dié land, Indonesië en Japan. Owerhede sê noodpersoneel fynkam die puin van ingestorte geboue en waarsku die sterftesyfer kan toeneem. Die Filippyne, Indonesië en Japan is op die sogenaamde “Ring van Vuur” geleë. Dit bestaan uit ‘n reeks onderwater-vulkane en plekke waar meer seismiese bedrywighede voorkom.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown het ‘n tweejaarkontrak vanaf 2028 gesluit met Nieu-Seeland, vir wie hy tussen 1999 en 2001 18 toetse gespeel het. Sy kontrak met die Bokke eindig na volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Australië. Dave Rennie en die res van sy All Blacks-afrigtingspan is tans net tot die Wêreldbeker-toernooi gekontrakteer. Die uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby, Steve Lancaster, sê Brown is ‘n wêreldklas-afrigter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-150-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-291-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….