Nuus 07:00
BULLETIN 8 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering versterk die land se immigrasiewette
# OPUL het ingestem om sy olie-uitvoere te verhoog
# En tennis: Alexander Zverev wen sy eerste Grand Slam-titel in Parys
# President Cyril Ramaphosa het hervormings aangekondig om die integriteit, doeltreffendheid en sekuriteit van Suid-Afrika se immigrasiestelsel te verbeter. Dit volg nadat die Kabinet verlede week ‘n Omvattende Benadering vir Migrasiebestuur aanvaar het. Ramaphosa het die land gisteraand toegespreek en gesê die regering wil ʼn Suid-Afrika hê waar elke mens wat die land binnekom, dit wettig doen, waar immigrasiewette gerespekteer en nagekom word, en gemeenskappe veilig voel:
Ramaphosa sê ook werkgewers wat bewustelik ongedokumenteerde werkers aanstel en hul kwesbaarheid uitbuit, oortree die wet en kan swaarder strawwe en strenger toepassing verwag. Ramaphosa sê werkgewers wat onwettige buitelanders aanstel, ondermyn arbeidstandaarde, regverdige mededinging en geleenthede vir Suid-Afrikaners:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê die regering sal voortgaan om stappe te doen teen onwettige goederehandel in die land. Die woordvoerder, Teboho Thejane, sê die regering het die Nasionale Program vir die Ontwrigting van die Onwettige Ekonomie ingestel wat ten doel het om sindikate uit te wis, belastingontduiking te voorkom en openbare gesondheid en plaaslike nywerhede te beskerm. Hy sê owerhede lê steeds beslag op nagemaakte goedere, smokkelware en ander onwettige handelsgoedere:
# Die Vryheidsfront Plus in Ekurhuleni ondersteun hervormings wat dienslewering verbeter en aanspreeklikheid verhoog, maar sal enige proses teenstaan wat meer rompslomp skep sonder om gemeenskappe tasbaar te bevoordeel. Die party onderskryf die Metro-handelsdienste se hervormingsprogram wat deur die Nasionale Tesourie begin is. Die VF Plus sê hierdie program voorsien metro’s van 54-miljard-rand oor ses jaar om hulle by te staan om kragvoorsiening, vullisverwydering, drinkwater en riooldienste weer op dreef te kry en die dienste soos lewensvatbare sakeondernemings te bestuur.
# Die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande het ingestem om ʼn vierde keer in vier maande sy olie-uitvoere te verhoog terwyl die voortslepende oorlog in Iran die vloei van ru-olie deur die Straat van Hormoes ontwrig. OPUL-lede, insluitend Saoedi-Arabië, Rusland en Irak het ingestem om olieproduksie-kwotas in Julie met 188-duisend vate per dag te verhoog. Die groep sê die besluit is daarop gemik om die oliemark te bestendig, en lede toe te laat om verlaagde vergoeding te versnel te midde van die hoogste oliepryse in die geskiedenis.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie Alexander Zverev is nou ʼn Grand Slam-kampioen nadat hy die Franse Ope gewen het. Die 29-jarige Duitser het die Italianer Flavio Cobolli met 6-1, 4-6, 6-4, 6-7, 6-1 verslaan. Zverev, wat sy vorige drie Grand Slam-eindstryde verloor het, is die derde Duitse man om ʼn Grand Slam in die Ope Era te wen. Hy is ook die eerste man buiten Jannik Sinner of Carlos Alcaraz wat sedert 2023 ʼn Grand Slam-enkelspeltitel buit. Zverev gee erkenning aan sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-54-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-322-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….