Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Eramus, is baie tevrede met sy afrigtingspan se strategiese vergadering van twee dae in Kaapstad. Die nuwe verdedigingsafrigter, Jerry Flannery, die nuwe aanvals-afrigter, Tony Brown, en die uitgetrede internasionale skeidsregter, Jaco Peyper, wat tans die nasionale reëlraadgewer is, het by hom aangesluit. Drie-en-veertig spelers woon vandag ‘n belyningskamp by, waar die afrigtingspan se beplanning en besprekings voortgesit word. Die Bokke begin op 22 Junie hul internasionale seisoen teen Wallis op Twickenham in Londen.
Die dubbele Wêreldbeker-wenner en Springbok-vleuel, Cheslin Kolbe, kan intussen tot ses weke lank buite aksie wees vir sy Japanse span. Hy het ‘n handbesering opgedoen terwyl hy vir Suntory Sungoliath gespeel het, en dra tans ‘n handstut. Suntory is tans derde in die Japanse topliga. Kolbe behoort betyds fiks te wees vir die begin van die Bokke se internasionale seisoen, maar is nie deel van dié week se belyningskamp in Kaapstad nie.
# Die Suid-Afrikaanse Opkikkerbeheer-laboratorium in Bloemfontein is vol vertroue dat hy sy akkreditasie van die Wêreld-Opkikkerbeheeragentskap sal terugkry. Die instelling, wat Afrika se enigste geakkrediteerde toetslaboratorium is, se akkreditasie is vir ses maande opgeskort, omdat hy nie aan die Internasionale Standaard vir Laboratoriums voldoen nie. Die Universiteit van die Vrystaat, wat die laboratorium huisves, sê die regstellings sal gedoen word soos WADA vereis, en sal binne die opskortingstydperk afgehandel wees.
Die Hof vir Arbitrasie in Sport het intussen die Roemeense tennisspeler Simona Halep se skorsing weens opkikkers van vier jaar tot nege maande verminder. Tennis se Internasionale Integriteitsagentskap het die tweemalige Grand Slam-kampioen tot Oktober 2026 geskors nadat sy in Augustus 2022 by die Amerikaanse Ope positief getoets het vir roxadustat. Die hof het bevind Halep het op ‘n oorwig van waarskynlikhede nie doelbewus die middel ingeneem nie. Aangesien sy reeds sedert Oktober 2022 voorwaardelik geskors is, kan sy onmiddellik na die sport terugkeer omdat die skorsing van nege-maande op ses Julie verlede jaar reeds verstryk het.
# En, krieket: Die sukkelende Engelse kolwer, Jonny Bairstow, gaan waarskynlik vir sy toetsloopbaan moet veg, wanneer die vyfde en laaste toets teen Indië môre in Dharamsala begin. Bairstow speel in sy 100ste wedstryd. Engeland het reeds die reeks met 3-1 verloor, maar sal probeer om met ‘n bietjie selfrespek uit die stryd te tree. Bairstow het in dié reeks slegs 170 lopies aangeteken – ‘n gemiddeld van 21 lopies per wedstryd. Die Indiese draaibouler Ravichandran Ashwin gaan ook sy 100ste toets speel. Bairstow sê hy sien uit na die mylpaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….