Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, netbal: Die pas aangestelde Protea-hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê haar doelwit is om ‘n wenspan te bou. Sy het ‘n vierjaarkontrak en sal die span na die 2027 Wêreldbeker-toernooi in Australië lei. Van Dyk sal deur die voormalige Protea-kaptein en Maties-afrigter Zanele Mdodana bygestaan word. Haar eerste opdrag is om ‘n groep van 30 spelers te kies en die nasionale span te finaliseer. Van Dyk sê haar droom is om ‘n Wêreldbeker te wen:
# Rugby: Die Leeus se losskakel, Jordan Hendrikse, sal hom aan die begin van die volgende Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen aansluit by sy Springbok-broer Jaden by die Haaie. Die broers het in Durban skoolgegaan. Die Haaie, wat ‘n nagmerrie-seisoen beleef, is tans laaste op die punteleer met net een oorwinning in elf kragmetings, en het nie nog ‘n nommer tien buiten Curwin Bosch nie. Die skrumskakel Jaden Hendrikse het in 2021 sy debuut vir Suid-Afrika gemaak en sedertdien 15 toetse gespeel.
# Motorsport: Red Bull se spanhoof, Christian Horner, is vrygespreek nadat bewerings van onbehoorlike gedrag teen hom gemaak is. Die 50-jarige Horner is ondersoek ná ‘n vroulike kollega bewerings gemaak het, wat hy ontken. Red Bull sê hy het vertroue dat die ondersoek regverdig, deeglik en onpartydig was. Hy sê die klaer mag appelleer. Die eerste Grand Prix van die seisoen vind die naweek in Bahrein plaas.
# Krieket: Die Indiese snelbouler Mohammed Shami sal hierdie jaar se Indiese Premierliga misloop nadat hy in Brittanje ‘n operasie moes ondergaan aan sy Achilles-sening. Hy is gekontrakteer deur die Gujarat Titans, saam met die Protea-kolwer David Miller, in die IPL wat op die 22ste van volgende maand begin. Shami verteenwoordig Gujarat sedert 2022 nadat hy vroeër vir Kolkata Knight Riders, Delhi Daredevils en Punjab Kings gespeel het. Hy het nie besonderhede gegee oor hoe lank die herstelproses sal wees nie, en net gesê dit kan ‘n tydjie neem.
# En laastens, tennis: Die ATP-toer en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het ‘n strategiese vennootskap van vyf jaar gesluit om die groei van die sport wêreldwyd te versnel. Die fonds sal voortaan ook in die titel van die toer genoem word en sal op groot toernooie in Indian Wells, Miami, Madrid en Beijing, die ATP-eindstryd en die Next Gen ATP-eindstryd op die baan aangebring word. ATP se hoofbestuurder, Massimo Calvelli, sê die vennootskap sal die toekoms van die sport op die lang termyn verstewig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….