Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Sandile Ngcobo, sê hy is tevrede met die manier waarop hulle die sewestoernooi in Perth, Australië, afgesluit het. Die Blitsbokke het Frankryk 24-5 verslaan en vyfde geëindig. Argentinië het hulle tweede agtereenvolgende toernooi gewen en hulle plek boaan die punteleer behou. Die Blitsbokke is na drie toernooie nou in die vierde plek saam met Ierland ná Australië en Fidji. Ngcobo sê met sulke taai kompetisie moet hulle klinies wees en in elke wedstryd alles gee:
# Vervolgens, sokker: Die Palestynse nasionale sokkerspan gaan volgende maand twee vertoonwedstryde teen plaaslike uitnodigingspanne speel op die Athlone-stadion in Kaapstad . Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging beplan dit vir die 11de en 18de. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stad sal geen huurgeld vir die stadion vra nie en 400-duisend-rand se ondersteuningsdienste soos verkeers- en afvalbestuur beskikbaar stel:
Nog sokkernuus: Die Demokratiese Republiek van die Kongo het die sewemalige kampioen, Egipte, uitgeskakel om die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi in die Ivoorkus te haal. Die wedstryd was gelykop met een-elk na bykomende tyd, waarna die DRK Egipte met agt strafdoele teen sewe verslaan het. In die ander wedstryd het Mohamed Bayo in die 98ste minuut ʼn doel aangeteken om Guinee tot ʼn sege van een-nul oor die tien-man-span van Ekwatoriaal-Guinee gelei, en sodoende die eerste keer sedert 2015 die laaste agt te haal. Guinee kom Vrydag in Abidjan teen die DRK te staan vir ʼn plek in die halfeindronde.
# Boks is volgende aan die beurt: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die Suid-Afrikaner Jackson van Tonder Chauke geluk gewens met die Internasionale Boksorganisasie se vlieggewig-titel. Hy het Quaise Khademi Saterdagaand in die York-saal in Londen verslaan. Khademi is in Kaboel, Afghanistan, gebore maar woon in Engeland. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Kodwa wil hê Suid-Afrikaanse boks moet herleef en weer die hoogtes van voorheen bereik:
# Ons sluit vandag af met tennis: Novak Djokovic van Serwië het die nommer een-posisie behou ondanks ‘n onverwagse nederlaag in die halfeindronde van die Australiese Ope. Daniil Medvedev van Rusland het die kans verbrou om die nmmer twee, Carlos Alcaraz van Spanje, verby te steek, ná sy nederlaag in die eindstryd in Melbourne, en is steeds derde. Hy word gevolg deur die kampioen, die Italianer Jannik Sinner, en Andrey Rublev van Rusland. Op die vroueranglys is Iga Swiatek van Pole steeds nommer een, met die kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, tweede en die Amerikaner Coco Gauff derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….