Sportnuus 12:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
# Eerste aan die beurt is tennis: Jannik Sinner is deur na die eerste eindstryd van ‘n Grand Slam-toernooi nadat hy die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindstryd van die Australiese Ope verslaan het. Die 22-jarige het die Serwiër met 6-1, 6-2, 6-7, 6-3 geklop in Melbourne. Sinner kan tot nommer drie opskuif indien hy Sondag sy eerste Grand Slam-titel wen en Daniil Medvedev teen Alexander Zverev verloor in die ander halfendstryd. Sinner sê hy het geglo hy kan die wêreld nommer een klop:
# Rugby is volgende aan die beurt: Die kaptein, Selvyn Davids, het twee drieë vir die Blitsbokke gedruk in hulle eerste Groep A-kragmeting in die wêreldreekstoernooi in Perth, Australië, waarin hulle Kanada 24-7 geklop het. Suid-Afrika het goed herstel om te wen nadat hulle vroeg in die wedstryd ‘n drie afgestaan het. David Brits en Tristan Leyds was plaasvervangers in hul debuut vir die Blitsbokke. Die span speel vanmiddag teen Spanje in die laaste kragmeting van die dag voordat hulle die voorloper in die reeks, Argentinië, môre-oggend in hul laaste groepswedstryd pak.
# Ons kom nou by krieket: Die Pretoria Capitals het ʼn kliniese boul-vertoning gelewer om die Sunrisers Eastern Cape in hulle SA20-wedstryd in Centurion met drie lopies te verslaan. Die Capitals het eerste gekolf, maar slegs 125 in hulle 20 boulbeurte aangeteken. Wayne Parnell en Adil Rashid het daarna elk drie paaltjies laat kantel om die Sunrisers tot 122 vir nege te beperk. Na hierdie oorwinning is die Capitals die eerste keer hierdie seisoen nie laaste op die punteleer nie. Eathan Bosch van Pretoria Capitals sê hulle wil steeds die volmaakte wedstryd speel:
# Nou gholfnuus: Willie Olivier en Oliver Bekker loop gesamentlik met een hou voor na die openingsronde van die Mediclinic-uitnodigingstoernooi by die Maccauvlei-gholfklub in Vereeniging, Gauteng. Die twee het weggespring met rondes van sewe onder baansyfer 65. Die 25-jarige Olivier, wat sy stempel in die Sonskyntoer wil afdruk, was tevrede met sy eerste ronde:
# En, ons sluit af met motorsport: Charles Leclerc het sy kontrak met Ferrari verleng om ná die huidige Formule Een-seisoen by die span aan te bly. Die lengte van die nuwe kontrak is egter nie bevestig nie. Leclerc het in 2016 by die Scuderia aangesluit as akademie-bestuurder en sy F1-debuut in 2018 by Sauber gemaak. Sedert hy in 2019 by Ferrari se F1-span aangesluit het, het Leclerc 23 voorste wegspringplekke en vyf oorwinnings behaal. Sy spanmaat, die Spanjaard Carlos Sainz, onderhandel steeds oor ʼn nuwe ooreenkoms aangesien sy kontrak aan die einde van die jaar verstryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….