Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Januarie 2022:
NASIONAAL:
# Mail & Guardian:
Skryf oor die ANC se bestaan wat strek oor 110 jaar: “FROM GRAVITAS TO GREED”.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Valke is oortuig hulle het die regte verdagte in hegtenis geneem vir die brandstigting in die Parlement. Dit volg nadat talle vrae gevra is oor die identiteit van Zandile Mafe.
En tweedens skryf die koerant oor die kanovaarder Danelle Murray wat ʼn vreemde weldoener langs die Vaalrivier se skoene gekry het nadat sy kaalvoet uit die vloedwater ontsnap het.
# Pretoria News:
Skryf oor president Cyril Ramaphosa se skielike onttrekking uit ʼn vergadering van die Vroueliga in Limpopo. Hy is na bewering uit die vergadering verwyder omdat daar nie aan Covid-19-protokolle voldoen is nie.
# The Star:
Berig die polisie het die sekerheidsmaatreëls by die ANC se 110de gedenkfees in Limpopo opgeknap ná kommer oor Ramaphosa se veiligheid.
En tweedens skryf die koerant oor probleme met die aanlynregistrasie vir geldelike hulp van die studentehulpfonds, NSFAS.
# En Sowetan:
Skryf die dinee saam met Ramaphosa tydens die ANC se feesvierings in Limpopo, waar kaartjies van vyf-duisend-rand tot 1,2-miljoen-rand gekos het, is uitverkoop.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ʼn laerskoolhoof van Bloemfontein wat verskeie klagtes van seksuele teistering in die gesig staar wil nou aftree. Die polisie het bevestig ʼn aantal klagtes is by die Parkweg polisiestasie ingedien.
Dan skryf die koerant die saaiboere van die Hoopstad-omgewing vra om hulp nadat ʼn verwoestende haelstorm hul gesaaides vernietig het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die polisie word hewig gekritiseer in deel een van die Zondo-verslag. Dit volg nadat klagtes wat teen senior amptenare ingedien is nooit ondersoek is nie.
En tweedens berig die koerant, soos Beeld, oor die vermeende brandstigter, Zandile Mafe.
# Cape Times:
Skryf die DA het nog geen kommentaar gelewer oor die kritiek teen die aanstelling van die voormalige LUR Bonginkosi Madikizela as die premier, Alan Winde se raadgewer nie.
Dan is daar ook berigte oor ʼn reddingspan wat ʼn stapper se liggaam herwin het en oor ʼn ma se hulde aan haar dogter wat in ʼn motorongeluk dood is.
# En Cape Argus:
Berig oor die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone wat die geleentheid bied vir sogenaamde groen tegnologie wat die gemeenskap en plaaslike sakeondernemings sal bevoordeel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf die polisie het ses verdagtes in Kariega in hegtenis geneem vir die beweerde afdreiging van sakeondernemings in Nelson Mandelabaai.
En tweedens word berig oor ʼn skietgeveg in Zwide wat vier slagoffers geëis het en ʼn vyfde ernstig gewond gelaat het.
# En Daily Dispatch in Oos-Londen:
Berig oor die haglike omstandighede op Buffalo City se strande.
Dan skryf die koerant daar is ʼn beroep op die plaaslike polisie gedoen om hul sokkies op te trek.
En laastens word berig die sangoma wat by beweerde onwettige inisiasie betrokke was, is borgtog geweier.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die reuse-tekort aan beddens en ander haglike omstandighede by die Northdale Hospitaal.
# En Daily News in Durban:
Berig die gemeenskap is ongelukkig oor borgtog toegestaan is aan verdagtes wat beskuldig word van ʼn verbyry-skietery waarin drie vrouens omgekom het. Hul gesinne sê dit stel hulle lewens in gevaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Skryf die Kombat-kopermyn is weer in produksie en die eerste koperkonsentraat sedert 2008 is vervaardig, ten spyte van vertragings in die verskeping van toerusting weens die pandemie.
En tweedens is daar ʼn foto van twee Belgiese burgers wat Afrika plat-getoer het op hul motorfietse en nou in Namibië aangeland het.