Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Januarie 2022:
GAUTENG:
# Beeld:
Berig president Cyril Ramaphosa het aan ANC-lede gesê hulle moet die Zondo-verslag gaan lees en seker maak dit gebeur nooit weer nie. Hy het ook aan lede gesê hulle moet nie die verslag uitdaag nie.
Dan skryf die koerant oor ʼn voorval toe ʼn vliegtuig van Airlink ʼn groot voël getref en ʼn deel van die propeller die kajuit binnegedring het.
Voorts word berig oor die man wat in hegtenis geneem is nadat hy na bewering die vensters by die Konstitusionele Hof stukkend geslaan het.
En laastens is daar ʼn berig oor die man met die fop-handgranaat by die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein. Michael Wheeler sê die granaat is ʼn aandenking van sy pa.
# Pretoria News:
Skryf adjunkpresident David Mabuza het in Limpopo gesê die ANC sal nie skeur nie. Hy het egter bygevoeg die party moet nou dringend aandag skenk aan die Zondo-verslag.
# Sowetan:
Lei met: “ZONDO REPORT RUFFLES A FEW FEATHERS”. Die koerant berig oor die uiteenlopende reaksie van diegene wat in die verslag by ongerymdhede betrek word.
# En The Citizen:
Skryf breedvoerig oor die Zondo-kommissie se eerste verslag. Die koerant se hoofopskrif: “HOW THEY SUCKED US DRY”.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor Ramaphosa se uitsprake en skryf ook oor die man met die fop-handgranaat.
Dan berig die koerant oor die skielike dood van Sané Jacobs nadat sy op 17 Desember in ʼn motorongeluk betrokke was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Ramaphosa se uitspraak oor die Zondo-verslag en skryf oor die oefen-handgranaat.
Laastens berig die koerant oor die verdrinking van die 11-jarige Sasha Davis van Elim.
# Cape Times:
Skryf die voormalige Wes-Kaapse LUR vir Vervoer en Openbare Werke, Bonginkosi Madikizela word nou weer vir ʼn top posisie oorweeg.
Dan word berig die probleme met rybewys-hernuwings is steeds nie opgelos nie.
En laastens skryf die koerant beamptes moes inspring en help met ʼn bevalling in Kampsbaai.
# En Cape Argus:
Berig Brett Herron van The Good Party wil hê die minister van Polisie, Bheki Cele moet Kaapstad se Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek.
Dan skryf die koerant oor toenemende druk om die aanbevelings van die Zondo-verslag uit te voer.
En laastens berig die koerant oor die ANC se sukses as opposisieparty in die Wes-Kaap die afgelope jaar.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf opnuut oor die verbete soektog na die ma van Gqeberha, Silvia Wittal wat sedert verlede week vermis word. Die soektog is nou uitgebrei na omliggende gebiede rondom die stad.
# En Daily Dispatch in Oos-Londen:
Berig oor probleme met die aanstelling van dokters in die Oos-Kaap.
Dan skryf die koerant oor die vloedskade ná die swaar reën in die provinsie.
En laastens is daar ʼn berig oor probleme met die betaling van ʼn Kersfees-bonus aan werknemers van die stadsraad.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Lei met: “ZUMA WON’T GET A FAIR TRIAL”. Die koerant skryf oudpresident Jacob Zuma se ondersteuners in KwaZulu-Natal wil hê hy moet die bevindings van die Zondo-verslag bloot ignoreer.
# En Daily News in Durban:
Berig oor ʼn opspraakwekkende moordsaak van ʼn taxi-baas van Camperdown. Daar is sprake van ʼn polis vir sy weduwee ten bedrae van 1,5-miljoen-rand.
Die koerant berig ook die Zondo-kommissie het 1,5-miljoen-rand aan papier bestee tydens sy dienstydperk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Skryf vyf lede van ʼn vooraanstaande gesin van die Zambezi-streek het in ’n ongeluk in die Bwabwata Nasionale Park omgekom.
Dan word berig oor die rommelstrooiing deur vakansiegangers langs die strande en elders in die Dorob Nasionale Park die afgelope vakansieseisoen.