Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 November 2021:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf oor die ANC se segetog in die eThekwini-metro in KwaZulu-Natal. Mxolisi Kaunda van die party is weer verkies tot burgemeester van Durban.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die moord op die 67-jarige Daleen Cameron van Bayswater in Bloemfontein wat gister reeds op die voorblad van Volksblad was. Haar man Alex het op haar liggaam afgekom nadat hy van die apteek teruggekeer het.
Dan word berig die omstrede sakeman en finansier vir oudpresident Jacob Zuma, Philani Mavundla is verkies tot onderburgemeester in eThekwini. Die DA het die verkiesing bevraagteken.
En laastens skryf die koerant hopeloos te min gesondheidswerkers in die openbare en privaat sektor is reeds teen Covid-19 ingeënt. Nasionaal staan die syfer op 76-persent.
# Pretoria News:
Skryf altesaam drie-miljoen gegradueerdes in die land is werkloos. Werkloosheid in die Oos-Kaap staan op 53-persent, in die Noord-Kaap is 50-persent werkloos en in Limpopo 49-persent.
# The Star:
Berig ook oor die ANC se oorwinning in eThekwini en die rol wat Mavundla van die Abantu Batho Congress in die herverkiesing van die ANC burgemeester gespeel het.
# En Sowetan:
Lei met die hoofopskrif: “WHY TOP COP SAID: ‘AVOID GETTING RAPED’.” Die koerant skryf die Gautengse polisiehoof moet nou verduidelik wat die bedoeling van die stelling was.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig kenners is van mening Suid-Afrika kan ná die nasionale verkiesing in 2024 op ʼn koalisieregering afstuur.
En tweedens skryf die koerant die vermoorde Daleen Cameron het volgens haar man bloedkanker gehad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad oor die moontlikheid van ʼn koalisieregering in die toekoms.
Dan berig die koerant bekende sangers gaan as draers optree by die huldigingsdiens van die Afrikaanse sanger Theuns Jordaan.
En laastens is daar ’n storie oor Snuffels, die Jack Russell-snuffelhond van die polisie, wat dwelms ter waarde van 800-duisend-rand uitgesnuffel het.
# Cape Times:
Berig eerstens kenners is van mening die swak prestasie van die ANC in die afgelope plaaslike regeringsverkiesing gaan negatiewe gevolge inhou vir president Cyril Ramaphosa se leierskap van die party.
Dan skryf die koerant pendelaars moet hulself gereed maak vir ʼn styging in taxi-tariewe.
# En Cape Argus:
Waarsku sy lesers teen Swart Vrydag-bedrogspulle,
skryf op die eerste dag van die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders oor die aanwending van meer hulpbronne teen geslagsgeweld,
en berig laastens oor betogings wat beplan word teen Amazon oor die oprigting van hul nuwe Suid-Afrikaanse hoofkwartier in Kaapstad.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ondersoek na die beweerde sterftes as gevolg van kits-noedels word verskerp, en skryf oor die Blitspatrollie in die Oos-Kaap wat gekortwiek word deur ʼn gebrekkige infrastruktuur.
# En Daily Dispatch in Oos-Londen:
Skryf Shell het na bewering geen omgewingspermit nie en berig ook oor die Oos-Kaapse Blitspatrollie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Lei met die hoofopskrif: “ANC RETAINS DURBAN”.
# En Daily News in Durban:
Berig Ace Magashule en Zweli Mkhize het agter die skerms gesorg dat die ANC in eThekwini seëvier.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Skryf die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente verskyn vandag weer voor die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge oor sy finansiële sake wat in ʼn warboel is.
En berig oor ʼn wees renosterkalf wat dae lank alleen in die bos oorleef het.