Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Februarie 2022:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf hoewel die Internasionale Monetêre Fonds van mening is ekonomiese hervorming kan tot drie-persent groei lei, gaan dit nie realiseer nie as gevolg van die negatiewe invloed van staatsondernemings op die ekonomie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Stad Johannesburg is van voorneme om eers te onderhandel voordat hy summier die krag afsny van diegene met agterstallige skuld. Tshwane het verlede week meer drasties opgetree.
Dan is daar ‘n berig oor die Rolling Stones wat in Julie hul 60ste jaar in die bedryf gaan vier.
En laastens skryf die koerant oor professor Riaan Rheeder van Potchefstroom wat deur honde aangeval is toe hy gaan draf het. Hy is in die gesig gebyt.
# Pretoria News:
Skryf president Cyril Ramaphosa het toegegee die regering het misluk met werkskepping. Cosatu en die SAKP het Ramaphosa gekritiseer oor sy aankondiging oor werkskepping deur die privaat sektor.
# Sowetan:
Berig drie ANC-lede is gewond toe lede na bewering op ‘n leiersverkiesingsvergadering van hul eie party losgebrand het. Die voorval het gister in Driekoppies buite Malalane in Mpumalanga plaasgevind.
# En The Citizen:
Lei met: “NOOSE TIGHTENS ON FOREIGN WORKERS”. Die koerant skryf vigilante-groepe wil buitelanders uit poste verwyder en die Departement van Arbeid is besig om die 40-persent beperking op buitelandse werkers af te dwing. Die Huawei-groep is met 1,5-miljoen-rand beboet omdat 90-persent van sy werkers buitelanders is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande het bekend gemaak die Ouditeur-Generaal het bevind daar word vyf-miljard-rand uit die Nasionale Vaardigheidsfonds vermis. Nzimande het ‘n forensiese firma aangestel om ondersoek te doen.
Dan skryf die koerant ‘n sakeman en boer van Welkom, Hannes Steyn het in die see by Tergniet naby Mosselbaai verdrink toe ‘n fratsgolf sy boot omgeslaan het. Sy vrou Maryna het uitgeswem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die Nasionale Vaardigheidsfonds-debakel en skryf oor die verdrinking van Hannes Steyn.
Laastens berig die koerant die gerug doen die ronde – Tom Cruise se Mission Impossible 8 wat hy tans in Suid-Afrika skiet, gaan oor die hernuwing van sy rybewys in Suid-Afrika.
# Cape Times:
Skryf die MyCiTi N2-snelbusdiens word op 19 Februarie hervat. Die eerste busse sal van Kapteinsklip in Mitchells Plain en Kuyasa in Khayelitsha vertrek tot by die Burgersentrum in Kaapstad.
# En Cape Argus:
Berig daar is wydverspreide ongelukkigheid oor seksvoorligting in skole, en tweedens skryf die koerant ook oor MyCiTi.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat ‘n voormalige ANC-raadslid van Nelson Mandelabaai, Mazwi Mini by sy huis in KwaNobuhle geskiet is.
En tweedens word berig twee mense is gisteroggend dood in ‘n motorongeluk op die Ou Kaapweg naby die St. Albans Korrektiewe Instelling.
# En Daily Dispatch in Oos-Londen:
Berig die Kongres van Tradisionele Leiers wil die Oos-Kaapse regering dagvaar, en die raad van die Buffalo City-metro is gekritiseer vir sy hantering van die brandbestrydingskrisis in die stad.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Msunduzi se woude is besig om ten gronde te gaan en ‘n belangrike bron van die inkomste vir die stad gaan so verlore.
# En Daily News in Durban:
Berig daar word geen vordering gemaak met die vervanging van put-toilette in KwaZulu-Natal nie. Dit volg nadat Amnestie Internasionaal aangedui het alle toilette moet teen 2023 verwyder wees.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Skryf die partye is gereed om die kwessie van selfdegeslag-huwelike na Namibië se Hoër Hof te neem om te besluit oor wetlik gelyke regte vir Namibiërs en hul nie-Namibiese eggenote.
En tweedens berig die koerant pastoor John Hess het ’n boodskap van vertroosting vir die familie en vriende gebring van die drie jong mans wat in die Oanobdam by Rehoboth verdrink het.