Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Februarie 2022:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf president Cyril Ramaphosa sal moontlik die Basiese Inkomstetoelae of BIG aanwend om sy steun ‘n hupstoot te gee.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met ‘n waarskuwing aan Gautengers oor verdere reën die week wat nog voller riviere kan meebring. Daar is ook ‘n berig oor die liggaam van Christo Fritz wat gevind is nadat hy en ‘n vriend se boot oor die wal van die Roodeplaatdam gestort het.
En tweedens berig die koerant die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula het die versekering gegee die parlementsopening en staatsrede sal nie ontwrig word nie.
# Pretoria News:
Skryf die regering het al die vooraf waarskuwings van die Nasionale Intelligensie Koördineringskomitee oor die Julie-onluste geïgnoreer.
# Sowetan:
Berig die Hof het beveel die uitvinder van Vodacom se please-call-me-diens, Noksana Makate moet vyf persent van die inkomste uit die diens van Maart 2001 tot Maart 2021 ontvang.
# En The Citizen:
Lei met: “WHERE CYRIL WENT WRONG”. Die koerant skryf die president het talle van sy beloftes in verlede jaar se staatsrede nie nagekom nie en hy sal sy woorde vanjaar versigtig moet kies.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig soos Beeld oor Mapisa-Nqakula se onderneming dat die staatsrede nie ontwrig sal word nie.
En dan berig die koerant oor die toetswedstryd tussen die Springbokke en Wallis wat op 9 Junie in Bloemfontein gespeel gaan word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad oor die staatsrede. Die koerant skryf die veiligheidsmagte is op gereedheidsgrondslag en gee die strate om die Kaapstadse stadsaal wat gesluit gaan wees.
En tweedens berig die koerant die polisie is op soek na ‘n vrou wat na bewering saam met die vermeende Klawer-moordenaar, Daniel Smit in sy bakkie was.
# Cape Times:
Skryf ook die regering het waarskuwings oor die Julie-onluste geïgnoreer.
En dan berig die koerant die uitvinder van Please-Call-Me gaan meer as 47-miljoen-rand van Vodacom ontvang.
Daar is ook ‘n berig oor nog ‘n taxi-bestuurder wat doodgeskiet is.
# En Cape Argus:
Berig oor ‘n vlaag inbrake in Durbanville.
Dan skryf die koerant ook oor Mapisa-Nqakula se onderneming dat die parlementsopening nie ontwrig sal word nie.
En laastens word berig die EFF het ‘n parlementêre ondersoek na die Julie-onluste versoek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Skryf eerstens oor die DA se voormalige Oos-Kaapse leier, Athol Trollip wat na bewering by ActionSA gaan aansluit.
En dan word berig die DA wil hê die uitslag van die watertoetse in die Nelson Mandelabaai-metro moet openbaar gemaak word.
En laastens is daar ‘n berig oor diewe wat op die Metro se voertuigvloot toegeslaan het.
# En Daily Dispatch in Oos-Londen:
Berig die plaaslike brandweerstasie in Oos-Londen is in ‘n haglike toestand.
Dan skryf die koerant oor leerkragte wat betogende studente vrees.
En laastens word berig oor Eskom se tydelike afskaffing van beurtkrag.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Durbanse Kamer van Handel en Nywerheid sê die regering moet met die sakegemeenskap in gesprek tree om vertroue te herstel.
# En Daily News in Durban:
Lei met die hoofopskrif: “CORRUPTION ‘PANDEMIC’ MUST END”. Die koerant het met lesers gepraat op die vooraand van die president se staatsrede.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese media-landskap het ‘n nuwe hoofstuk betree met die bekendstelling van Namibia Media Holdings se nuwe DStv-kanaal, Network Television.
Dan skryf die koerant die Kanadese olie- en gasmaatskappy, ReconAfrica, is van voorneme om sy oliebelange in die Kavango-kom te verstewig.
En laastens is daar ‘n berig oor ‘n deurbraak teen die sogenaamde Maerua-bende van Windhoek. Die polisie het sewe vermeende bendelede in hegtenis geneem.