Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n onmiddellike debat en stemming oor die wantrouemosie teen Mapisa-Nqakula
# Giwusa waarsku die energieprysverhogings gaan die lewenskoste-krisis verdiep
# En, rugby: ‘n Voormalige Samoaanse kaptein word aangewys as die nuwe hoofafrigter
# Die DA dring aan dat die debat en stemming oor die mosie van wantroue in die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, so gou moontlik moet plaasvind. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria haar aansoek om ‘n moontlike inhegtenisneming te verhinder, van die hand gewys het. Die party meen die Parlement moet die speaker aanspreeklik hou, insluitend op aanklagte van korrupsie en geldwassery. Woordvoerder Siviwe Gwarube hou vol die integriteit en geloofwaardigheid van die Nasionale Vergadering is op die spel:
# Giwusa sê komende brandstof- en elektrisiteitsprysverhogings sal armoede en lewenskoste vererger. Die Departement van Minerale Bronne en Energie het beduidende stygings in petrolpryse aangekondig, met 93- en 95-oktaan-petrol wat om middernag styg met onderskeidelik 65-sent en 67-sent per liter. Die vakbond vra die nasionalisering van energie-monopolieë om werkers se swaarkry te verlig. Koketso Phasha van Giwusa sê werkers wat reeds worstel met stagnante salarisse sal nou verdere finansiële spanning ervaar:
# Die UDM sê die ANC is reeds drie dekades lank vas aan die slaap en het nie daarin geslaag om die waterdienslewering en infrastruktuurkrisis in Suid-Afrika suksesvol op te los nie. Adjunkpresident Paul Mashatile het aangekondig president Cyril Ramaphosa het hom aangestel om ‘n taakspan oor die waterkrisis te lei. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, sê Mashatile sal in die komende weke baie besig wees, want hy sal benewens sy gewone pligte die ANC se veldtog moet lei en die land se waterinfrastruktuur moet red:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê die Verenigde Koninkryk het Israel versoek om ‘n volledige verduideliking te verskaf oor ‘n lugaanval waarin hulpwerkers dood is. Die VSA-gebaseerde liefdadigheids-organisasie World Central Kitchen sê sewe van sy werkers is dood terwyl hulle besig was om kos af te laai wat per see na die Gaza-strook geneem is. Die groep het bedrywighede onderbreek nadat die Australiese, Britse, Palestynse, Poolse en VSA-Kanadese personeellede dood is. Die Israeliese Weermag sê hy doen ‘n deeglike oorsig oor die voorval.
# Rugby: Die voormalige kaptein van Samoa, Mase Schwalger, is aangewys as nuwe hoofafrigter van die nasionale span tot met die Wêreldbekertoernooi in Australië in 2027. Hy was die hulpafrigter gedurende verlede jaar se toernooi in Frankryk toe Samoa net een wedstryd kon wen. Schwalger was haker in 40 toetse en sê om sy land as speler en as breier te verteenwoordig, is die toppunt van sportprestasie. Samoa speel in Julie tuis teen Italië en Spanje voor hulle die volgende maand aan die Pacific Nations-beker deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-126-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-257-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….