Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan appelleer oor 102-miljoen-rand vir 2019 se verkiesingsplakkate
# N-U-M vra vir meer skag-inspeksies om ongelukke te vermy na die Implats-ramp
# En, rugby: RG Snyman kan dalk terugkeer huis toe nadat sy kontrak met Munster verstryk het
# Die ANC sal die Konstitusionele Hof nader in ‘n poging om die Appèlhof se beslissing om te keer, dat die party meer as 102-miljoen-rand moet betaal vir 2019 se verkiesingsplakkate. Die party kan moontlik gelikwideer word indien bates tekort skiet aan die 150-miljoen-rand wat aan Ezulweni-beleggings verskuldig is vir die verkiesingsmateriaal wat vir hul veldtog verskaf is. Die ANC sê nuwe getuienis van ‘n forensiese verslag, is nie oorweeg nie. Die party hou vol daar was geen magtiging vir die transaksies nie.
# Die mynwerkersvakbond N-U-M se sekretaris van Gesondheid en Veiligheid, Masibulele Naki, het die dringende behoefte beklemtoon dat myn prosedures vir die inspeksie van skagte moet verduidelik en voorop stel ten einde ongelukke te voorkom. Dit volg ná vanoggend se voorval by Impala Platinum in Rustenburg, Noordwes, waarin 11 mynwerkers dood en 75 ernstig beseer is. Berigte dui aan ‘n hysbak het ongeveer 200-meter ver geval in ‘n skag van een-kilometer toe mynwerkers ná hul skof na die oppervlak gebring is. Naki beklemtoon dis noodsaaklik om skag-inspeksies voorop te stel:
# Die DA in Gauteng sê hy het die afgelope ses maande verskeie mosies ter tafel gelê om inwoners se lewensgehalte te verseker en hulle teen afknouery en diskriminasie te beskerm. Die party het ook ‘n mosie ingedien om die rol te bespreek van onafhanklike kragprodusente vir beter toegang tot elektrisiteit vir alle Gautengse inwoners. Nico de Jager van die DA sê die ANC het, met behulp van sy meerderheid, die mosies verwerp, want hy wil nie aanspreeklikheid aanvaar vir die provinsiale regering nie:
# Reddingswerkers in Indië kan nou begin om 41 konstruksiewerkers te red wat reeds17-dae in die Himalajas vasgekeer is nadat ‘n tonnel ingetuimel het. Dit volg nadat spanne onder leiding van sogenaamde rot-mynwerkers deur rotse en puin geboor het om die groep te bereik. Die werkers sal een vir een op ʼn draagbaar op wiele deur ‘n pyp van 90 sentimeter getrek word. Hulle het sedert die ineenstorting kos, water, lig, suurstof en medisyne deur ‘n pyp ontvang, maar ‘n reeks probleme het reddingswerkers tot dusver verhinder om hulle te bereik.
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne stel glo belang in die dienste van die Springbok-slot, RG Snyman, na bevestiging hy gaan nie sy kontrak met Munster hernu nie. Hy het in 2020 by die Ierse span aangesluit, maar ʼn reeks beserings het hom verhinder om groot indruk te maak. Snyman het ʼn operasie in Suid-Afrika ondergaan nadat hy ʼn borsbesering opgedoen het in die Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks. Mede-wenner van die Wêreldbeker, slot Jean Kleyn, het intussen sy kontrak met Munster met twee jaar verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-184-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-12-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….