Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 4-beurtkrag tot Saterdag
# ‘n Suid-Afrikaans-gebore vrou word uit Gaza vrygelaat
# En, rugby: Jake White is ingenome om Willie le Roux op Loftus te hê
# Die week het nie goed begin vir Eskom en Suid-Afrikaners nie. Die nutsmaatskappy het bekendgemaak fase 4-beurtkrag is vanmiddag ingestel weens die toenemende vraag asook onvoldoende opwekkingsvermoё en die noodsaaklikheid om die noodreserwes te bestuur. Dit sal tot vroeg Saterdagoggend voortduur. Onbeplande onderbrekings het tot 15-duisend-424 megawatt gestyg, terwyl die vermoë buite diens vir beplande instandhouding, tot ses-duisend-280 megawatt toegeneem het.
# ‘n Vrou wat in Suid-Afrika gebore is, is onder die gyselaars wat die naweek uit Gaza vrygelaat is. Aviva Siegel, wat Suid-Afrikaanse/Israeliese burgerskap het, en haar Amerikaanse man, Keith, is vroeg in Oktober saam met ander deur Hamas gyselaar geneem. Keith is steeds in Gaza. Die 64-jarige Aviva het saam met haar gesin na Israel geëmigreer toe sy agt jaar oud was. Sy is ‘n onderwyseres by ‘n crèche in die Midde-Oosterse land, terwyl haar man by ‘n farmaseutiese maatskappy werk.
# Die gesinne van twee Wes-Kaapse ingenieurs wat in Ekwatoriaal-Guinee gevange geneem is, Frik Potgieter en Peter Huxham, doen ‘n beroep op die regering om hul beskerming en veilige terugkeer vir Kersfees te verseker. Hulle is in Februarie by hul hotel in Malabo in hegtenis geneem op dwelmverwante aanklagte en is die afgelope nege-maande in die tronk. Potgieter en Huxham werk vir die Nederlandse onderneming SBM Offshore in Ekwatoriaal-Guinee. Hul gesinne beklemtoon die vinnige en veilige terugkeer hang af van ‘n sterk bilaterale verbintenis tussen Suid-Afrika en die Sentraal-Afrikaland.
# Rugby: Die Bulle gee vroeg die toon aan onder die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Pretoria-span is na ses rondes derde op die punteleer, na Glasgow Warriors en Leinster. Dit is nadat hulle Connacht Saterdag op Loftus Versfeld met 53-27 geklop het met heelagter, Willie le Roux, wat sy debuut vir die Bulle gemaak het. Afrigter Jake White, is baie ingenome om Le Roux in sy span te hê:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-978-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-13-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-13-sent per vat.
# Ten slotte: Die organisasie Snake and Venom Education het ‘n belangrike waarskuwing uitgereik aangesien slange binnenshuis skuiling soek teen die intense hitte. Mosambiekse spoegkobras, groen mambas, swart mambas, Kaapse kobras, pofadders en ander spesies is aan die beweeg. Die organisasie beklemtoon slange soek dalk veilige skuilplekke om eiers te lê. Die brandpunte sluit in, Durban en Kaapstad. ‘n Omgewingsbewaarder, Carla Goede, het in gesprek met eNCA gesê die publiek word ten sterkste aangeraai om kontak met hierdie reptiele te probeer vermy:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….