Nuus 15:00
BULLETIN 12 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsdepartemente word gekritiseer oor laat betalings aan verskaffers
# Die Staatsdienskommissie beveel maatstawwe aan vir hibriede werksomstandighede
# En, motorsport: Massa begin met ‘n regsgeding oor 2008 se Formule Een-kampioenskap
# Meer as 60-persent van die land se staatsdepartemente loop deur onder kritiek oor vertraagde betalings aan verskaffers. Volgens die Staatsdienskommissie het slegs 17 uit 40 nasionale departemente in die tweede kwartaal van 2023/24 betyds aan die betalingsvereistes voldoen, ‘n effense verbetering vanaf die eerste kwartaal. Die kommissie se woordvoerder, Anele Gxoyiya, sê sommige van die redes vir die vertragings sluit in begrotingsbeperkings, geskille oor fakture, interne vermoënskwessies en laat magtiging:
Die kommissie het ook aanbeveel die Departement van die Staatsdiens en Administrasie moet maatstawwe instel vir die bestuur van die hibriede werksomstandighede wat gegeld het tydens die Covid-19-pandemie. Dit volg op ‘n deeglike studie oor die landwye instelling van hibriede werk. Die kommissie moedig ook staatsdepartemente aan om steeds maatreëls in te stel om werkers en die publiek te beskerm teen Covid-19. Gxoyiya het staatsamptenare herinner sommige werknemers kan nie van die huis af werk nie, weens die aard van hulle pligte:
# Die Landbousakekamer van Suid-Afrika sê droër en warmer-as-gewoonlike weerstoestande gaan voedselprysinflasie verder laat styg, wat die vooruitsig vir somergewasse beïnvloed. Die kamer waarsku spesifiek witmielieprodukte hou ‘n groot risiko in vir verbruikers-voedselinflasie. Volgens die Oesskattingskomitee is daar ‘n afname van 17,2-persent in die witmielie-oes en ‘n afname van 7,7-persent in geelmielie-oeste. Die tweede 2023/24-produksievoorspelling wat op 26 Maart verwag word, kan verswakkende omstandighede aandui.
# ’n Skip met 200 ton humanitêre hulp vir die Palestyne in die oorloggeteisterde Gaza het uit Ciprus vertrek. Die sleepboot en barg het vanoggend uitgevaar. Dit is die eerste besending wat langs ‘n maritieme korridor vanaf Ciprus gestuur word, en is bedoel vir die desperate Palestynse burgerlikes in Gaza. Met die klein volume hulp wat Gaza per land binnekom sedert die gewapende konflik, en hongersnood wat dreig, het buitelandse regerings hulle tot hulp gewend wat uit die lug afgegooi word. Hulle probeer nou ook om ‘n maritieme hulpkorridor te skep.
# Motorsport: Die voormalige Formule Een-jaer, Felipe Massa, het ‘n regsgeding aanhangig gemaak oor die uitslag van ‘n Grand Prix-ren in 2008, wat die Britse jaer Lewis Hamilton gehelp het om die wêreldkampioenskap voor sy neus weg te raap. Nelson Piquet Junior het later erken sy Renault-span het hom beveel om doelbewus ‘n ongeluk in Singapoer te veroorsaak, wat daartoe gelei het dat Massa, wat in sy Ferrari voor was, 13de geëindig het. Hamilton het daardie seisoen net een punt voor Massa afgesluit. Die voormalige uitvoerende hoof, Bernie Ecclestone, het verlede jaar erken F1-hoofde was bewus van die toesmeerdery.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-246-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-172-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-36-sent per vat..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….