Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die portefeuljekomitee op Minerale Bronne sê menslike foute het moontlik tot die ongeluk by Impala Platinum gelei
# Korrektiewe Dienste sal tronksekerheid opskerp vir die feestyd
# En, gholf: Luke Donald sal in 2024 weer die kaptein van Europa se Ryderbeker-span wees
# Sahlulele Luzipo van die Parlement se portefeuljekomitee oor Minerale Bronne en Energie dink menslike foute is moontlik die oorsaak van die ongeluk by Impala Platinum in Rustenburg in Noordwes. Twaalf mynwerkers is dood en 74 beseer, sommige bedenklik, toe ‘n hysbak waarmee hulle na die oppervlak gery het in ‘n skag afgetuimel het. Daar word verwag die gesinne sal die slagoffers se liggame identifiseer. Luzipo vra ‘n deeglike ondersoek na die voorval:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste stel pro-aktiewe maatreëls in om sekerheid in tronke op te skerp voor die feestyd. Kommissaris Makgothi Thobakgale het die veiligheidsoperasieplan vir veilige korrektiewe sentrums vir die feestyd amptelik bekendgestel. Dit kyk na uitdagings soos oorbevolking, bendebedrywighede en smokkelhandel. Dit sluit ook verhoogde waaksaamheid, verkeersmonitering, streng keuring van besoekers en programme vir positiewe betrokkenheid vir gevangenes in om ‘n vreedsame en bestendige omgewing te verseker. Thobakgale beklemtoon die belangrikheid daarvan om die veiligheid van amptenare en gevangenes te handhaaf.
# Die Suid-Afrikaanse Oesskattingskomitee waarsku die Suider-Afrika-ontwikkelingsgemeenskapstreek kan in die komende jare kostekorte ondervind. Dit is ondanks Suid-Afrika se grootste mielie-oes sedert 1960 en Tanzanië se verwagte reuse-oes, want faktore soos klimaatsverandering, die El Niño-weerverskynsel en ekonomiese druk sal waarskynlik ‘n negatiewe invloed hê. Suid-Afrika en Tanzanië, wat die vernaamste mieliebronne sal wees, het te doen met uitdagings wat in die komende twee jaar kostekorte kan veroorsaak. Ekonomiese uitdagings in Malawi en Zimbabwe vererger die krisis, wat 20-miljoen mense afhanklik maak van kosbystand.
# Gholf: Die Engelsman, Luke Donald, sal volgende jaar weer die kaptein van Europa se Ryderbeker-span wees. Hy het die span verlede maand tot ‘n oorwinning van 16-en-‘n-half teen 11-en-‘n-half oor Amerika aangevoer, waarna sy spanmaats hom gevra het om onlangse tradisie oorboord te gooi en in beheer te bly. Donald wil slegs die tweede kaptein na Tony Jacklin in die 1980’s word om Europa tuis en weg na oorwinnings te lei. Vanjaar se kompetisie is in Rome gespeel en volgende jaar sal in New York plaasvind. Donald sê hy is verheug en geëerd om weer die kaptein te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-729-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-37-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die hittegolf wat vir ‘n paar dae in November in verskeie dele van die land geheers het, het nuwe rekords daargestel vir die maand vir sowel die maksimum en minimum temperature. Dit was warm tot bloedig warm. Woordvoerder Lehlohololo Thobela sê voorlopige data dui op nuwe rekords met die temperatuur van 46,7-grade Celsius vir November oor die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….