Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Transformation Alliance versoek myne om hul infrastruktuur te onderhou
# Die DA sê 832 leerders in Gautengse skole is deur voedselvergiftiging geraak
# En, krieket: Pakistani se boete weens vertoon van Palestynse vlag word herroep
# Die leier van die Transformation Alliance, Abel Tau, doen ‘n beroep op mynondernemings in Suid-Afrika om hul infrastruktuur te onderhou, veiligheidsbeamptes op te lei en te alle tye noodreaksie op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te hê. Dit volg nadat 11 mynwerkers van Impala Platinum in Rustenburg, Noordwes, dood en 75 beseer is toe die hysbak waarmee hulle na die oppervlak gery het, in ‘n skag afgetuimel het. Tau sê hierdie ongelukkige voorval plaas die kollig op die veiligheid van mynwerkers en dit is ‘n ernstige bron van kommer:
# Die DA in Gauteng sê meer as 832 leerders in die provinsie het die afgelope vyf jaar voedselvergiftiging opgedoen. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het dit in die provinsiale wetgewer onthul na aanleiding van ‘n vraag van die party. ‘n Woordvoerder van die DA, Khume Ramulifho, sê die provinsiale Onderwysdepartement doen nie genoeg om te verseker dat skoolbeheerliggame gehoor gee aan die ontwikkelde riglyne van die Departement van Basiese Onderwys vir die bestuur van voeding en verskaffers nie:
# Die finansiële wêreld rou oor die verlies van ‘n visioenêr, miljardêr en ondervoorsitter van Berkshire Hathaway. Charlie Munger het op 99-jarige ouderdom in ʼn hospitaal in Kalifornië gesterf. Hy was die sake-magnaat Warren Buffett se regterhand en het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die uitbou van die sukses van Berkshire Hathaway. Buffett prys Munger vir sy inspirasie, wysheid en volharding in die sakewêreld. Munger het in 1978 die ondervoorsitter geword en deurslaggewende beleggingsbesluite beïnvloed. Forbes beraam sy persoonlike fortuin op sowat 48-miljard-rand.
# Krieket: Pakistan se beheerliggaam het nie ‘n rede gegee waarom hy die boete van 50-persent van sy wedstrydfooi herroep het wat die paaltjiewagter Azam Khan gekry het omdat hy ‘n plakker met Palestina se vlag op sy kolf vertoon het nie. Hy het geweier om die plakker te verwyder terwyl hy vir die Karachi Whites teen die Lahore Blues gekolf het in die nasionale T20-beker-kompetisie. Die Internasionale Krieketraad se reëls verbied spelers en spanbeamptes om sonder toestemming persoonlike boodskappe op hul toerusting te dra, te vertoon of andersins oor te dra.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-327-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-41-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Ekurhuleni het gister sy feestyd met ʼn skouspel van opwindende plaaslike teaterproduksies afgeskop. Die Dumisani Masilela-teater in Germiston was ʼn miernes van bedrywighede met produksies soos Gibson Kente se How Long Mfowethu. Daar was ook ʼn verskeidenheid vertonings van verskillende vervaardigers. Mense wat dit bywoon word aangemoedig om skool-skryfbehoeftes te skenk wat aan ʼn aangewese skuiling vir kinders met verskillende behoeftes sal gaan. Die teater-skouspel eindig op die tiende van volgende maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….