Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy wil ‘n duidelike globale klimaatdoelwit sien by COP-28
# Die Referendumparty sê die Wes-Kaapse premier het misluk om polisiemagte afgewentel te kry
# En, krieket: Joe Root onttrek aan I-P-L 20-24
# Die minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, Barbara Creecy, sê die Verenigde Nasies se Klimaatsveranderingsberaad, COP-28, in Dubai, behoort die instelling van die Parys-ooreenkoms te ondersteun. Dié ooreenkoms poog om die globale gemiddelde temperatuurverhoging minder as 1,5 grade Celsius bo voor-industriële temperature te hou. Creecy het aan Newzroom Afrika gesê hulle soek ‘n duidelike globale klimaatdoelwit by COP-28:
# Die Referendumparty beskuldig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, dat hy misluk het om polisiemagte na die provinsie te laat afwentel. Wetstoepassing is tans ‘n nasionale funksie wat deur die polisie uitgevoer word. Winde laat gereeld sy stem hoor oor die afwenteling van polisiemagte na die provinsies en voer ʼn woordestryd met die minister van Polisie, Bheki Cele, oor polisiehulpbronne in die Wes-Kaap. Die Referendumparty se leier, Phil Craig, sê die hoë misdaadsyfer in die provinsie is weens die provinsiale regering se mislukkings:
# Christopher Luxon het amptelik die amp as eerste minister van Nieu-Seeland aanvaar. Die inhuldigingseremonie, wat deur goewerneur-generaal Cindy Kiro in die hoofstad, Wellington, hanteer is, was die oordrag van mag ses weke nadat die Nasionale Party die verkiesing gewen het, wat die Arbeidersparty se bewind van ses jaar beëindig het. Luxon is ‘n voormalige uitvoerende hoof van Air New Zealand. Hy het in sy intreerede beklemtoon sy primêre fokus sal wees om die ekonomie te herstel:
# Krieket: Die Engelse kolwer Joe Root, wat vroeër vanjaar sy debuut in die Indiese Premierliga vir die Rajasthan Royals gemaak het, het besluit om hom van die 2024-I-P-L te onttrek. Die Royals sê in ‘n verklaring op hulle webtuiste hulle respekteer Root se besluit. Hy het die tweede Engelse speler na Ben Stokes geword om te onttrek. Die besturende direkteur van Engeland se mans-krieketvereniging, Rob Key, het na die aankondiging van die span vir hulle Karibiese toer gesê, Root het ‘n blaaskans aan die einde van die Wêreldbeker nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-422-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-14-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
# En laastens: Die Derde Afrika Unie-mannekonferensie oor Positiewe Manlikheid begin vandag in Pretoria. Die tema van die konferensie is, die konsolidering van verbintenisse ten opsigte van die AU-konvensie oor die beëindiging van geweld teen vroue en meisies. Die byeenkoms sal die geleentheid bied vir die konsolidering van pogings deur Afrika-staatshoofde en ander sektore, om geweld teen vroue en meisies in Afrika te beëindig. Die konferensie word gesamentlik aangebied deur die AU-voorsitter, president Azali Assoumani van die Comore-eilande, en president Cyril Ramaphosa.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….