Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kenner waarsku oor die haastige instel van die tweepot-stelsel vir aftreefondse
# Die DA is bekommerd oor die onnodige vertraging met korrupsiesake by die Gautengse Gesondheidsdepartement
# En, gholf: 155 spelers mik na ‘n oorwinning in Joburg Ope
# Die hoof van versekering by Allan Gray, Richard Carter, het kommer uitgespreek oor die haastige instel van Suid-Afrika se tweepot-stelsel vir aftreefondse. Hy het verbasing uitgespreek oor die versnelde tydlyn en beklemtoon die land is nie gereed nie, aangesien administratiewe veranderings en lede-kommunikasie beïnvloed word. Carter sê om wetgewende veranderings deur te jaag, verhoog die kans om vertroue te skaad en kan skade aanrig. Die voorgestelde tweepot-stelsel poog om aftreebesparings te hervorm deur ‘n gedeelte te bewaar terwyl beperkte voor-aftrede toegang vir noodgevalle toegelaat word.
# Die DA in Gauteng sê dis kommerwekkend dat die tugverhore van top-amptenare wat betrek word by korrupsie in die Tembisa- en Anglo Ashanti-hospitale, tot volgende jaar gaan voortsleep en miljoene rande kos omdat hulle met volle salarisse geskors is. Die tugverhoor van die provinsiale Gesondheidsdepartement se hoof- finansiële beampte, Lerato Madyo, en Tembisa-hospitaal se uitvoerende hoof, Ashley Mthunzi, is tot Maart volgende jaar uitgestel hangende die uitslag van ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid. Jack Bloom van die DA sê spoedige geregtigheid word in hierdie saak vereis:
# Die Internasionale Energie-agentskap sê die olie-en gasbedryf staar ʼn oomblik van waarheid in die gesig en moet kies om óf die klimaatskrisis te vererger óf skoon energie te aanvaar. Die agentskap se nuwe verslag bevat ʼn strategiese plan vir ʼn regverdige oorgang na ʼn toekoms sonder vrystellings vir die bedryf. Volgens die verslag moet olie- en gasprodusente wat hulle volle samewerking wil gee om die Parys-ooreenkoms se doelwitte te bereik, teen 2030, 50-persent van hulle beleggings aan skoon energie gee in plaas van die huidige 2,5-persent.
# Gholf: Die Joburg-ope het vanoggend begin en 155 beroepspelers van regoor die wêreld ding mee by die Houghton-gholfklub om ʼn deel van die prysgeld van 20.5-miljoen-rand. Christiaan Bezuidenhout is terug by die huis vir hierdie toernooi. Hy het reeds die Suid-Afrikaanse ope en die Alfred Dunhill-kampioenskap ingepalm. Bezuidenhout sê hy sal graag die Joburg Ope-beker ook in sy trofeekas wil bêre:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-495-dollar-29-sent. Die prys van goud is een-duisend-993-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-75-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Opname deur Debt Rescue dui aan 70-persent van finansieel-onderdrukte verbruikers beplan om op Swart Vrydag te fokus op transaksies vir noodsaaklike goedere soos kos, toiletware en elektronika. Ondanks ekonomiese uitdagings, beoog 83-persent om deel te neem, met 89-persent wat bereid is om tot drie-duisend-rand te bestee. Die opname weerspieël die verskuiwing na waardebewuste besteding, met 80-persent wat pryse nagaan en by hul inkopielys hou. Die uitvoerende hoof, Neil Roets, waarsku hierdie optrede dui op die bedenklike finansiële toestand van baie huishoudings en moedig versigtige besteding aan om bykomende skuld in 2024 te vermy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….