Nuus 13:00
BULLETIN 13 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Weskus-gemeenskap betoog buite die hof met die beskuldigdes in die Joslin Smith-verdwyning wat terugkeer
# Die Appèlhof behou uitspraak voor oor AfriForum se uitdaging van die Menseregtekommissie
# En, krieket: Die skokkende toestand van die Pietermaritzburg Oval lei tot die verskuiwing van ‘n wedstryd
# Lede van die Saldanhabaai-gemeenskap drom sedert vroeg vanoggend saam buite die Landdroshof in Vredenburg met vier beskuldigdes in die sesjarige Joslin Smith se verdwyning wat terug is in die hof. Daar is ‘n verhoogde polisieteenwoordigheid, met ‘n lemmetjiesdraad-versperring, terwyl spanning oplaai onder betogers wat antwoorde eis oor waar Joslin is sedert sy op 19 Februarie verdwyn het. Onder die aangeklaagdes is Joslin se ma, Kelly Smith, en haar vriend, Jacquin Appollis, wat aangekla word van mensehandel vir uitbuiting, en ontvoering.
# Die Appèlhof in Bloemfontein het uitspraak voorbehou oor AfriForum se betoog oor die magte van die Menseregtekommissie. AfriForum, wat optree as vriend van die hof in die saak tussen AgroData en die kommissie, sê die uitkoms kan die afdwing van al die kommissie se aanbevelings raak. Die kommissie hou vol sy aanbevelings is bindend. AfriForum se veldtogbeampte, Louis Boshoff, sê hulle stem nie saam nie, en is bekommerd oor die moontlike misbruik van mag.
# Die sekretaris van die Nasionale Vergadering, Masibulele Xaso, het Parlementslede gewaarsku teen die misbruik van spraakvryheid. Hy het getuienis gelewer aan die Magte-en-voorregte-komitee wat die voorval in Junie 2022 bespreek het toe EFF-lede president Cyril Ramaphosa se begrotingsrede ontwrig het. Die tien EFF-LP’s staan tans tereg op aanklagte van ontwrigtende gedrag en Xaso het alle LP’s aangeraai om in ooreenstemming met parlementêre reëls op te tree. Hy sê die speaker behou die reg voor om orde tydens ‘n sitting te verseker en moet toegelaat word om dit te doen:
# Krieket Suid-Afrika het hom daartoe verbind om alternatiewe plekke te soek nadat ‘n KSA T20-wedstryd van die Pietermaritzburg Oval in KwaZulu-Natal verskuif moes word weens die skokkende toestand van die buiteveld. Die stadion is blykbaar nie opgeruim en skoongemaak nie, nadat dit twee weke gelede vir premier Nomusa Dube-Ncube se provinsiale rede gebruik is, en die gras is steeds bemors met stukke glas. TimesLIVE berig besoekende spanne het vroeër oor die toestand van die stadion gekla. Die stadion is die tuiste van die KwaZulu-Natal Binnelanders in die kompetisie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-517-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-157-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-64-sent per vat.
# En, die African Reclaimers Organisation het sy eie sorteersentrum vir herwinbare materiaal in Selby, Johannesburg, ingerig. Dit kom ná byna drie jaar se gesprekke met die Stad Johannesburg oor die integrasie van informele afvalherwinners. Die organisasie se Herwinning met Herwinners-program versamel afval in byna 100 woongebiede regdeur die stad. Die stad se afvalbestuurders, Pikitup, sê hulle kyk hoe hulle die herwinners kan bystaan met ‘n plek om te sorteer, maar begrotingsbeperkings is ‘n uitdaging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….